Editor's choiceLocal newsNews

Boere ondervind grootste droogte sedert 2003

“Kyk ons as boere moet nie mistroostig klink nie, want hier op die Hoëveld kan een goeie bui reën ’n dam volmaak,” sê boer.

BETHAL – Na verlede week se reën en haelstrom lyk landbouvooruitsigte vir plaaslike boere steeds nie goed nie.

Mnr. Braam Jordaan boer buite Bethal op die pad na Hendrina en hy het gesê dat dit nie net die boere is wat swaarkry nie, maar ook die diere.

Die kos raak minder en die uitgawes meer.

Volgens hom moet hy nou voer en lekke koop en hy kan diere nie net op lekke voed nie.

Die droogte het ’n groot impak op die boere omdat hulle dit nou dag-vir-dag moet neem.

Hy het ook gesê dat hulle versigtig moet wees vir enige brande wat dalk weens die hitte veroorsaak word.

Hoewel die weerburo sterk winde en droë toestande voorspel het, hoop hulle steeds vir nog reën.

“Dit is die eerste droogte sedert 2003.”

Hy het ook gesê dat dié dorp nooit temperature hoër as 30 het nie en in die week het die temperatuur tot 34 gestyg.

“In die Kalahari word die term swart gebruik om te verduidelik hoe droog dit is en in dié geval kan die vaal lande as swart beskryf word.

“Boorgate loop droog,” het hy gesê.

Damme en panne rondom die dorp is ook leeg.

Volgens hom plant die Hoëveldboere vroeg in Oktober en hoewel dit nog nie ’n groot risiko is nie, word die groeiseisoen beperk.

Die boere benodig meer as 30mm reën om die grond nat te hê, ondergrondse bronne aan te vul, en damme en panne vol te maak.

As die boere minder produseer, kan hulle minder produksiemiddele aankoop, dus is daar ook minder produkte vir lewering en verwerking beskikbaar wat ’n newe-effek op landbou-ondernemings het.

Graanproduksie word deur die droogte beperk en boere ly verliese.

“Kyk ons as boere moet nie mistroostig klink nie, want hier op die Hoëveld kan een goeie bui reën ’n dam volmaak,” het dié boer gesê.

Hinterland se takbestuurder, mnr. Rieaan van Rensburg, het gesê dat dit nog nie in die afgelope 10 jaar só warm en droog was nie.

Volgens hom kan hy in die verkope sien dat die droogte boere knel.

“Ons is afhanklik van die boere en kan sien dat die bekommernis daar is,” het mnr. Van Rensburg gesê.

Hy het ook gesê dat die boere verlede jaar al begin swaargekry het omdat die reënval onder die gemiddeld van 500 tot 800mm per jaar was.

Volgens hom is daar nie veel wat aan dit gedoen kan word nie, behalwe om die boere te ondersteun in hulle tyd van nood.

“Al wat ons wel kan doen, is om geloof te hê en te bid vir reën.”

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge TimesStanderton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button