GPF praat oor 11 huisbrake op Bethal
GPF-lede vergader weer op 5 November by die N.G. Kerk se Noordgemeente.

BETHAL – Lede van die sektor polisiëringsforum (SPF) het onlangs bymekaar gekom om oor onder andere misdaad in sektor 2 te praat.
Die vergadering het gehandel oor huisbrake ini die gebied en dat diewe heel gemaklik is wanneer hulle inbreek.
“Dit is nie meer soos in die ou dae waar hulle na ’n huis gekruip het of maskers gedra het nie.”
Diewe het oor ’n muur in Davelweg geklim en nie geweet dat die huisbewoner kameras het nie.
Hulle het nie daarin geslaag om in te breek nie, maar was in die inwoner se erf.
Na wat verneem word, het hulle dié huis met ’n baksteen gemerk.
Altesaam 11 huisbrake het die afgelope maand in die sektor se gebied voorgekom, terwyl diefstal uit voertuie ook heelwat was.
Lede het ook oor voertuie wat snags en bedags in strate stadig ry, gepraat en gesê dat inwoners op die uitkyk moet wees vir verdagte voertuie.
Daar is ook genoem dat vroue of mans wat nie kan patrollie ry nie, snags wakker moet word en net om sy huis en sy bure se huis kyk om te help om inbrake te voorkom.
Die SPF beskik oor ’n Whatsapp-groep waar lede enige misdaad kan aanmeld of hulp vra.
Dit is ook duidelik gestel dat mense wat tans deel van die groep is en nie by die SPF betrokke is nie, verwyder gaan word.
SPF-lede moet seker maak dat wanneer dit hulle beurt is om te patrolleer, hulle ander lede moet inlig watter voertuig hulle gebruik.
“Hier is voertuie wat rondry en vir die inwoners sê dat hulle van die SPF is en dan is hulle nie,” het mnr. Dirk Badenhorst, voorsitter, gesê.
Inwoners moet seker maak dat as iemand by hulle kom en sê dat hulle van die SPF is, hulle ‘n lidkaart moet toon.
Diewe se nuutste neiging is om diergeluide te maak om met mekaar te kommunikeer.
Volgens mnr. Badenhorst moet inwoners dadelik enige snaakse geluide aanmeld.
Mnr. Badenhorst het die gemeenskap genooi om by die SPF betrokke te raak en hul maandeliks vergaderings by te woon.
Hy het ook gesê dat dit al oor-en-oor bewys is dat wanneer daar lede patrolleer in ’n gebied, die diewe daar wegbly.
“Hoe meer daar is wat uitkyk vir diewe, hoe meer word hulle beperk om misdaad te pleeg.”
Lede vergader weer op 5 November by die N.G. Kerk se Noordgemeente.
Skakel mnr. Badenhorst by 082 416 4318.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 2667A726
WhatsApp – 0748877590



