CrimeLocal newsNews

Nog ‘n slagoffer van misdaad

Vrou gil nadat rower haar halssnoer probeer afruk.

SECUNDA – Rowers het op Maandag 5 Oktober gepoog om ’n middeljarige vrou se voertuig te kaap.

Hoewel hulle nie daarin kon slaag nie, het hulle wel met geld, wat hulle uit haar beursie gesteel het, weggekom .

Die voorval het omstreeks 11vm by die Pick n Pay Sentrum op die hoek van Nelson Mandelalaan en Pieter Wenningstraat plaasgevind.

Die vrou wat nie haar naam genoem wou hê nie, het na haar motor teruggekeer nadat sy inkopies gedoen het.

Haar motor was naby die apteek geparkeer.

“Ek het twee dae voor die voorval my arm seergemaak en moes eers die pakkies in die motor sit voordat ek kon inklim, my self vasgordel en die deure sluit.”

Oomblikke nadat sy haar veiligheidsgordel vasgemaak het en die motor se deur wou toemaak, het iemand die deur oopgetrek.

“Ek het eers gedink dat dit my dogter is omdat sy ook in die omgewing was.

“My selfoon was gelukkig in my broek se sak maar my beursie het nog op my skoot gelê.

“Die man het Engels gepraat en gevloek en my gevra waar my selfoon is.”

Sy het opgelet dat die man nié ’n wapen by hom gehad het nie en geantwoord dat sy nie haar foon by haar het nie.

“Hy het rondgevroetel om te kyk of hy nie my selfoon kan vind nie en was halflyf in die motor.”

Die rower het nadat hy nie haar foon kon opspoor nie, na haar goue halssnoer gegryp.

Sy het haar halssnoer met haar ken probeer vasdruk en het toe begin gil.

Hy kon nie die halssnoer van haar nek afruk nie.

Die merke op haar nek was die volgende dag nog sigbaar.

“Ek het begin gil en die man het my uit my motor probeer ruk, maar ek was gelukkig reeds vasgegordel.

“Ek het ‘n beweging agter my motor gesien en ek was bang dat daar nog iemand is om hom te help.”

Nadat die man nie daarin kon slaag om haar uit haar motor te pluk nie, het hy haar beursie, wat op haar skoot gelê het, gegryp en haar opdrag gegee om nie aksie te probeer neem nie omdat hulle haar dophou.

“Hoewel ek baie hard gegil het, het niemand my gehoor nie en ek vermoed dit is omdat daar soveel geraas rondom my was.”

Die rower het met die beursie na die agterkant van haar voertuig gehardloop.

Die slagoffer het haar beursie agter haar voetuig opgetel.

Die rower het met sowat R700 weggekom, sowel as van die kaarte wat in die beursie was.

“Ek sukkel nog om te slaap en is nou nog meer verskrik as voorheen.”

Die raad wat sy aan vroue wil gee, is dat hul werklik meer paraat moet wees.

“Kyk langs wie jy parkeer en ook wie langs jou parkeer het terwyl jy in die winkel was.”

“Probeer om in die gewoonte te kom om rondom jou te kyk voordat en terwyl jy na jou motor stap.”

Die man wat dié vrou aangeval en beroof het, het ’n sigbare letsel onder sy linkeroog.

______________________________________________________________________________________

Tydens ‘n ander voorval, het ‘n man ‘n vrou om kleingeld gevra.

Sy het gesê dat sy nié geld by haar het nie en het na die naaste OTM gestap om geld vir haar inkopies te trek.

Terwyl sy na die winkelsentrum teruggestap het, het die man haar weer genader.

Dié keer het hy vir haar gesê dat sy ongeskik met hom was en dat sy nou al haar geld wat sy getrek het vir hom moet gee.

Hy het haar motor se sleutel uit haar hand gegryp, haar geld gesteel en haar beveel om saam met hom te stap.

Hulle het in die rigting van die posbusse beweeg waar die rower die vrou se sleutels in die veld gegooi het.

Daarna het hy vir haar gesê dat sy eers na 10 minute mag ry en dat hulle haar dophou.

Mnr. Kosta Karzis, een van die bestuurders van die Pick n Pay het gesê dat dit ongelukkig is dat dit gebeur het en dat so iets enige plek kan gebeur.

Hy het ook genoem dat hulle graag wil hê kliënte moet veilig voel en dat daar karwagte is wat kliënte kan assisteer.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge TimesStanderton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button