Community galleriesGalleriesLocal newsNews

Fotogalery – Moths onthou gesneuweldes

"Mens kom net terug, en dis al. Die lewe gaan aan, met jou 'issues' en 'hangups' en daar word van jou verwag om soos normaal aan te gaan. Maar dis nie altyd so maklik nie,"

Lede van die Moths (Memorable Order of Tin Hats) op Ermelo het Sondag tydens ‘n roerende diens huldeblyke gelewer aan gesneuweldes in wereldoorloë en ander wat die hoogste prys betaal het in diens van hul land.

Die diens is by die Moths se Monte Sole Shell Hole in Jan van Riebeeckstraat gehou.

Gasspreker James Starkey het in ‘n aangrypende toespraak vertel van die invloed wat die Grensoorlog op hom as dienspligtige gehad het en hoe hy dit daarna moeilik gevind het om weer in die samelewing in te pas.

‘n Stryd met drank en woede-uitbarstings het hom vir jare daarna geteister, maar met ondersteuning van ware vriende en familie het hy dit uiteindelik te bowe gekom.

“Daar is geen wenners of verloorders in oorloë nie. As mens terugkom uit só ‘n situasie, is dit nie soos wanneer die Springbokke terugkeer ná ‘n buitelandse toer en deur duisende lawaaierige en vlag-waaiende bewonderaars verwelkom word nie.

“Mens kom net terug, en dis al. Die lewe gaan aan, met jou ‘issues’ en ‘hangups’ en daar word van jou verwag om soos normaal aan te gaan. Maar dis nie altyd so maklik nie,” het James gesê.

James het saam met sy vriend Anton Franken ‘n kruis gelê namens veterane en gesneuweldes van die 61 Gemeganiseerde Bataljon.

Verskeie ander instellings, organisasies, veterane, familie en vriende het kranse en aandenkings gelê ter nagedagtenis van gestorwenes.

Die polisie-orkes het vanjaar luister aan die geleentheid verleen met hul optrede en begeleiding.

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button