Verkeer hoop vir ure op
Motoriste woedend oor taxis wat aan linkerkant van die pad verbysteek en probeer indruk.
SECUNDA – Vier voertuie het op 9 November in mekaar vasgery nadat een van die motors skielik by die brug op die R580-pad tussen Trichardt en Evander gestop het.
Die ongeluk het omstreeks 5.18nm plaasgevind.
Lt. Bettina Zondo, skakelpersoon van die Secunda Polisiestasie, het gesê dat die motor wat voor gery het, skielik gestop het.
Een van die voertuie wat in die ongeluk betrokke was, was ’n polisievangwa.
Volgens lt. Zondo was dié wa deur die gebiedspolisie gebruik en was die laaste van die vier voertuie betrokke.
Sy het ook gesê dat daar niemand beseer is nie.
Die verkeer was vir ure ontwrig.
Motoriste het op Facebook hul woede teenoor taxi’s wat aan die linkerkant verbygegaan en voor ander motoriste ingedruk het, uitgespreek.
Van hulle het gesê dat tot ses taxi’s aan die linkerkant verby hulle gery het.
Van die vrae wat die gemeenskap gevra het, is:
* Waarom mag taxi’s aan die linkerkant op die grond verby ry terwyl almal moet wag en die bestuurder van die taxi word nie beboet nie?
* Hoe moet ander motoriste kalm bly en geduldig wees wanneer ander motoriste ry soos hulle wil?
* Waarom word die bestuurder nie beboet wanneer hy die verkeerslig vermy terwyl hy ander voertuie aan die linkerkant verbysteek nie?
* Wat gaan die verkeersdepartement daaraan doen wanneer taxibestuurders nog ’n ongeluk veroorsaak omdat hulle voor ander motors indruk?
* Waarom was dit nodig dat die pad gesluit moes word terwyl niemand beseer was nie?
* Was dit omdat ’n polisievoertuig betrokke was dat daar soveel polisie- en verkeersbeamptes was?
Die woordvoerder van die Govan Mbeki Munisipaliteit kon nie teen druktyd kommentaar lewer nie.


Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 2667A726
WhatsApp – 0748877590



