Geen beswaar teen parkontwikkeling gemaak
Hoe kan die parke in Secunda steeds bewaar word?
SECUNDA – ’n Beroep is op die gemeenskap gedoen om te help om Secunda se parke te red en te bewaar.
Die park in uitbreiding 7 wat naby die Rondekerk geleë is, is deur die Govan Mbeki Munisipaliteit aan ’n privaat onwikkelaar verkoop.
Volgens die stadsbeplanner sal die huidige eienaar die grond in 12 voltitel residensiële erwe verdeel.
Daarna sal die bou van slegs een huis per erf toegelaat word.
Boaberry en Secunda se inwoners is bekommerd oor die impak wat dié ontwikkeling op die omgewing sal hê.
Volgens mnr. Benzi Soko, hoof van personeel in die kantoor van die uitvoerende burgemeester, is die eiendom van sy eienaar vervreem deur die eiendomskantoor.
Daar is tans geen bewyse dat daar ’n omgewingsimpakstudie gedoen is nie.
“Ons het nog geen omgewingsimpakstudie gesien nie en sal weer kommentaar lewer sodra ons ’n aansoek vir die assessering van die impak op die omgewing ontvang het.
“Die gemeenskap moet ook verstaan dat die assessering nie onderdanig aan die Govan Mbeki Munisipaliteit is nie, maar aan die provinsiële regering,” het mnr. Soko gesê.
Die gemeenskap meen dat Secunda nie nóg behuising benodig nie en dat die park beter benut kan word.
Hoewel daar ’n advertensie in die koerant gepubliseer is om die gemeenskap van die ontwikkeling in kennis te stel, het niemand beswaar daarteen aangeteken nie.
Mnr. Soko het ook genoem dat die gemeenskap met die plasing van die advertensie beswaar moes maak en nie eers nadat dit goedgekeur is nie.
Die eienaar van die erf het ’n dorpsbeplanner aangestel om aansoek te doen om die park toe te maak en om die grond onder te verdeel.
’n Dorpsbeplanningsverhoor is vir 10 November beplan.
Hoewel die verhoor plaasgevind het, word daar steeds vir die finale uitkoms gewag.
Govan Mbeki Munisipalitiet sal dit dus eers moet goedkeur waarna ’n finale besluit geneem sal kan word.


Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 590c76a8
WhatsApp – 0793644185



