Vars water stroom in dreine af
Die klagtes stroom in en die water stroom uit.
Waterpype wat bars en lek, veroorsaak groot ongelukkigheid onder inwoners.
Hoewel die een klagte na die ander by die Govan Mbeki Munisipalitieit instroom, loop liters water in strate af.
Inwoners sit ook dae lank sonder water weens gebarste pype.
Verskeie waterlekke word sedert Augustus aangemeld en is nooit herstel nie óf dit word herstel maar breek weer.
’n Waterlek by Marietjie Skool wat herstel is, het na twee weke weer begin lek.
Die waterlek het verswakking in die pad veroorsaak en die gevolg daarvan was dat ’n skoolbus vasgeval het.
“Motoriste wil nie oor die verswakte deel van die pad ry nie want dit stel kinders en leerlinge se lewe in gevaar.
“Verkeersopeenhopings voor die skool is ’n daaglikse probleem,” het me. Mariane Ueckermann, hoof, verduidelik.
Sy het ook genoem dat dit vir haar hartseer is dat water gemors word.
’n Waterpyp in Lührmannstraat is in Augustus herstel.
Munisipale werkers het daarna die grond en klippe wat uitgegrou is, gebruik om die gat weer op te vul.
Die pyp het egter weer gebreek.
Dié probleem is weer by die Govan Mbeki Munisipaliteit aangemeld, maar geen verwysingsnommer is gegee nie.
Nadat die probleem weer op 4 en 16 September aangemeld is, is ’n verwysingsnommer uitgereik, maar die probleem is steeds nie opgelos nie.
Weens dié probleem, was drie dagsorgsentrums en ’n haarsalon twee dae sonder water.
“Nadat die sypaadjie opgegrawe is, is alles net so gelos.
“Ek moes my eie tuinwerker later vra om die hope grond gelyk te maak,” het een van die inwoners gesê.
In Letabastraat is daar nóg ’n waterlek wat al vir langer as nege weke lek.
Dié wyk se DA-verteenwoordiger het self ook e-posse na die munisipaliteit gestuur.
Sy is die versekering gegee dat die eposse na die regte afdeling gestuur sou word, maar die probleem is nog nie opgelos nie.
“Die Govan Mbeki Munisipalitiet probeer hul bes om alle waterpype wat lek of gebars het so gou as moontlik te herstel,” het mnr. Bheki Kubheka, hoof van die bemarking en kommunikasie van Govan Mbeki Munisipaliteit, gesê.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 590c76a8
WhatsApp – 0793644185






