Jannie leef vir rugby
Hy het al talle kniebeserings, gebreekte vingers en ’n gebreekte neus gehad.
BETHAL – Jannie Burger is met ’n rugbyhart gebore en speel al rugby sedert die ouderdom van 10.
Hy het as ’n vleuel vir die eerste keer op die rugbyveld uitgedraf.
Volgens hom is rugby spanwerk met baie dissipline em kameraadskap tussen spelers.
“Ons bou nuwe vriendskappe op,” het hy gesê.
Hy speel al vir 28 jaar rugby en het in 1996 vir Bethal Rugbyklub begin speel.
“Ek het ook ’n hele paar jaar vir Kriel gespeel.”
Vir dié slot is die lekkerste deel van rugby om saam met sy spanmaats te sweet en te bloei en die passie vir dieselfde sport te deel.
Rugby-uitdagings is dat dié sport op die platteland doodloop en die spelers van plaaslike rugbyklubs werk hard vir die voortbestaan van rugby.
Hy het al talle kniebeserings, gebreekte vingers en ’n gebreekte neus gehad.
“My kniebesering het veroorsaak dat ek vir ses maande op die kantlyn gesit het.”
Jannie het gesê dat God hom inspireer en dat hy graag vir sy span speel.
Volgens hom is dit alles te danke aan die Skepper dat hy met dié talent geseën is.
Lood de Jager en Jaco Kriel is van sy gunsteling rugbyspelers.
Van sy doelwitte is om saam met die Bethal Rugbyspan die senior rugbyliga volgende jaar te wen.
Jannie se raad aan jong opkomende spelers is om te besef dat rugby ’n fisiese sport is en dat mens getrou moet oefen en goeie spel speel.
Hy beskryf sy lekkerste rugbywedstryd as opwindend en dit was teen Middelburg se rugbyspan in 2001.
“Ons het met vier punte verloor, maar ons het dié span lank besig gehou.
Dit was ’n harde wedstryd.”
Nie net is sy bloed rooi nie, maar hy skree ook vir die Leeus.
In ’n onderhoud met die Ridge Times het hy gesê dat sy posisie behels om die teenstander “sag” te maak en die bal vir die agterspelers te wen.
Hy het ’n seun en ’n dogter.
Iets wat mense nie van hom weet nie is dat hy ’n baie klein hart het en uit sy pad vir ander gaan.
Hy woon al vir 38 jaar op die dorp en werk as ’n verhoudingsbestuurder.
In sy vrye tyd kyk hy graag flieks of maak kos.
Een van sy ander talente is dat hy ook gholf speel.
Op ’n vraag oor hoe die dorp verander het, het hy gesê dat daar te min aktiwiteite vir jong mense is.
“Ek bly naby Bethaldam en dit is ’n frustrasie om te sien hoe vervalle dit daar lyk.
“Ek onthou hoe ons as kinders vakansies op die waterglybaan baljaar het en hoe ons soms skottelgoedseep ingesmokkel het om vinniger by die glybaan af te gly,” het Jannie gesê.




