CrimeLocal newsNews

Bethal SPF-lede sluit jaar af

Daar gaan ook weekliks op die SPF se Whatsapp-groepe veiligheidswenke deurgegee word gedurende die feesseisoen.

BETHAL – Lede van die plaaslike Sektor Polisiëringsforum (SPF) het onlangs hul laaste vergadering gehou en mnr. Dirk Badenhorst as voorsitter gekies.

Me. Marile Nieuwoudt is die nuwe ondervoorsitter, me. Izelle Kemp is die sekretaris en me. Ingrid Hansel is die tesourier.

Die addisionele lid is mnr. Bruce Hansel.

Lede het tydens die vergadering gesê dat die pretdag wat op 28 November gehou was, ’n groot sukses was en dat hulle bykans R2 000 ingesamel het.

“Die dag sou nie sonder ons gemeenskap se hulp en ondersteuning gereël kon word nie en ons is baie dankbaar vir hulle,” het lede gesê.

Weens die suksesvolle pretdag, kan lede die wins vir veiligheidsbewusmakingsborde gebruik.

Volgens hulle wil hulle mense met hulp van die borde inlig oor veiligheid en bewusmaking.

Inwoners is gevra om te help om ondernemings te kry wat gewillig is om van die borde te borg vir die ingang na die gebied.

Daar gaan ook weekliks op die SPF se Whatsapp-groepe veiligheidswenke deurgegee word tydens die feesseisoen.

“Ons hoofdoel is om ons inwoners veilig te hou.”

In November was daar 13 huisbrake op die dorp waarvan net een uit sektor 2 was.

Daar is ook onlangs in Duikerstraat 27 deur die dag ingebreek.

Diewe het met ’n gransnyer, kantsnyer en gereedskap weggekom.

Daar was geen diefstal vanuit motors nie.

SPF-lede het ook weer wenke by die vergadering deurgegee:

· Inwoners moet nie alleenlik op sekuriteitsmaatskappye staatmaak nie.

· Moenie sleutels in deure of veiligheidshekke los nie.

· Moet nie agterlosig wees weens die hitte nie, soos om met oop vensters te slaap.

· Hou altyd noodnommers byderhand.

· Maak seker dat enige outomatiese hek ’n bystandbattery het en dat alle afstandbeheertoerusting in goeie werkende toestand is.

· Laat ’n betroubare persoon na jou huis kyk.

· Los ekstra sleutels by vriende en familie

· Maak seker dat alle voertuie gesluit is en moenie waardevolle items oornag in ’n voertuig los nie. Onthou ook om jou motorhuis te sluit.

· Pak enige voorwerpe wat teen jou as wapens gebruik kan word weg, soos hamers, grawe of ’n leer.

· Kry beligting vir jou erf.

Me. Nieuwoudt het ook weer gesê dat die Whatsapp-groepe net vir noodgevalle is.

Inwoners kan vanaf 6vm tot 9nm vrae aan die SPF-lede vra wat betrekking op veiligheid het, maar na 9nm is die groepe slegs vir noodgevalle.

“Ons patrolleerders word uitgeroep en dan is dit nie noodgevalle nie, en dit is ’n groot frustrasie.

“Die vrywilligers ry in hul eie tyd met hul eie brandstof om ’n veilig woonbuurt te skep en misdadigers weg te hou,” het sy gesê.

Mense word steeds genooi na vergaderings om misdaad te voorkom.

Skakel me. Nieuwoudt om meer inligting oor die Whatsapp-groepe te kry.

Vir meer inligting of om ’n ingangsbord te borg, skakel haar by 083 713 0597 of mnr. Badenhorst by 082 416 4318.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button