CrimeLocal newsNewsUpdate

OPVOLG: Gesin van vier verkool terwyl huis afbrand

Die verkoolde lyk van een van die kinders is langs sy ma gevind.

SECUNDA – Hoewel die lyke van die gesin nog nie uitgeken is nie, is dit vermoedelik dié van Morné Kruger (37) Ronel Kruger (35) en hul kinders Simoné en Reuben Kruger wat moontlik tussen 5 en 8 jaar oud was.

Nadat die gesin van vier op 21 Desember in hul huis in Lehmanstraat dood is, was die hele dorp geskok.

Daar is soveel vrae wat gevra word en almal wil weet wat werklik die oorsaak van die ontploffing en brand was en waarom dit lyk asof die gesin geensins probeer vlug het nie.

Volgens bure en ander inwoners wat naby die Krugers gewoon het, het Ronel en haar twee kinders talle kere by ander se deur aangeklop om skuiling te soek wanneer Morné blykbaar baie aggressief geword het.

Van die bure het selfs verneem dat dit slegs ‘n kwessie van tyd was voordat só iets sou gebeur.

Blykbaar het die kinders selfs skuiling by bure gaan soek wanneer dinge té erg in die huis begin raak het.

Een van die bure het ook vertel dat daar ’n polisieman in die omgewing naby die Krugers gewoon het by wie Ronel telkemale gaan klae het oor haar man se aggressiewe gedrag.

Volgens ’n kennis ís daar al ’n aanrandingsaak teen Morné gemaak omdat hy vir Ronel geslaan het.

Verder word daar beweer dat hulle besig was om te skei wat die vrae soveel meer maak omdat niemand kan verstaan waarom Ronel dié dag daar was nie.

Volgens vriende en kennisse het hulle ’n tipiese ‘aan en af’ verhouding gehad.

Daar word beweer dat die gesin Donderdag 17 Desember teruggekeer het van vakansie waarna bure vertel het dat daar geen beweging in die huis was nie.

In die silwer Nissan Micra was daar nog ’n bal van een die kinders op die agterste sitplek.

’n Ooggetuie het vertel dat al die motors tot teen aan die huis parkeer was en dit is juis daarom dat hulle die voertuie begin skuif het.

Nog ’n voertuig was in die motorhuis.

Vier verkoolde lyke is aan die einde van die dag uit die huis gedra.

Blykbaar het Ronel en haar twee kinders bymekaar gelê in die een vertrek en terwyl die verkoolde liggame uitgedra is, het dit gelyk asof die lyk van een van die kinders opgekrul was langs die ma.

Die man se liggaam is in ’n ander vertek in ’n sittende posisie gevind.

Die saak word steeds deur die polisie ondersoek.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button