SECUNDA – Inwoners gis en vra baie vrae oor wat op 21 Desember gebeur het toe die Kruger-gesin van vier in ’n brand uitgewis is nadat hul huis ontplof en aan die brand geslaan het.
Die verkoolde lyke van mnr. Morné Kruger (35), me. Ronel Kruger (29) en hul twee kinders Simoné (11) en Reuben Kruger (6) is in die huis gevind.
Mnr. Chris de Bruto het rook gesien en dadelik ondersoek ingestel.
Hy was geskok om te sien dat ’n huis aan die brand was.
“Ons kon heeltyd ontploffings hoor, maar was nie seker wat dit was wat ontplof het nie.”
Hy was een van die eerste mense op die toneel en het dadelik probeer om die buitehek van die spoor te lig sodat hy toegang tot die erf in Lehmanstraat kon kry.
Eers nadat mnr. De Bruto met die hek begin sukkel het, het ander mense hom gehelp.
“Ek het eerste na een van die vensters gehardloop wat soos ’n kamer se venster gelyk het en dit uitgeslaan.
“Die vlamme en rook was reeds baie erg en ek kon niks sien nie.
“Ek wou ingaan, maar die ander mense het gesê ek moenie,” het ’n erg emosionele mnr. de Bruto vertel.
Twee voertuie was teen die huis geparkeer en hy het dadelik werk daarvan gemaak om dié voertuie te probeer skuif.
“Ek moes klippe soek om die vensters van die voertuie te breek en kon eers daarna die voertuie weg van die huis af skuif.”
’n Vierwielmotorfiets sowel as ’n BMW-GS-motorfiets en nog ’n voertuig is uit die motorhuis geskuif.
Die vuur het vinnig deur die huis versprei en dit was binne minute in ligte laaie.
Toe mnr. de Bruto uitgevind het dat daar reeds een lyk gevind is, kon hy nie sy trane keer nie.
“Ek wou net die mense probeer help en wou hulle probeer uitkry.
“Hoekom het almal my probeer keer toe ek wou ingaan?
“Ek kon dalk nog iemand gehelp het!” het hy tussen die trane deur verduidelik.
Hy moes later vir van die bure vir suikerwater vra om kalm te raak.
Daar was gerugte dat die gesin nie werklik gelukkig was nie omdat mnr. Kruger glo soms aggressief kon raak.
Forensiese ondersoeke moet steeds vasstel wat die ontploffings en brand veroorsaak het.
Lt. Bettina Zondo, plaaslike polisiewoordvoerder, het gesê die forensiese span is steeds besig met die ondersoek.
Lees ook – Bingo is veilig na Secunda-gesinstragedie
Gesin van vier verkool terwyl huis afbrand
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 590c76a8
WhatsApp – 0793644185




