Al hoe meer boere kry swaar
Boere probeer tevergeefs die visse red nadat die dam byna heeltemal opgedroog het.
EVANDER – Boere landwyd gaan gebuk onder die droogte en die reën wat geval het, is vir sommiges reeds te laat.
Die Erasmus-gesin boer tussen Leandra en Evander en moes dringend hulp kry nadat hul dam op die plaas byna heeltemal opgedroog het.
Die visse het een na die ander begin vrek, hoewel van die visse gered kon word.
Die ganse het nou net ’n klein poeletjie water waarin hul kan afkoel.
Dié gesin boer ook met perde, bokke en beeste.

Hulle boer al byna vier jaar op dié plaas en dit is die ergste droogte wat hulle nog gesien het.
“Daar is nie meer gras vir die beeste om te eet nie en ek moet ook vir die perde kos koop.
“Ons moes ons beeste al na een van die ander boere se plase skuif waar daar water is,” het me. Nadine Erasmus gesê.
Die bietjie weiding wat hulle probeer opbou het, is deur rondloperbeeste opgevreet.
“Die draad word elke keer geknip en dan word die beeste deurgejaag om op ons grond te wei.

“Dit kos ons al baie geld om net die draad elke keer reg te maak en al jaag ons die beeste uit die kamp uit, kom hulle elke keer terug,” het me. Erasmus gesê.
“Dit is ook moeilik om genoeg bale in die hande te kry omdat die vervoer van die bale duur is.
“Die mense wat wel bale kan aflewer, kan net ’n vol vrag op ’n keer aflewer en baie van die boere in die omgewing wil nie saam staan sodat ons saam ’n klomp bale kan laat aflewer en die vervoerkoste deel nie,” het me. Erasmus verduidelik.
Die gesin moes in die laaste vier maande sien hoe die dam opdroog en die weiding al hoe minder raak.
Niemand in die omgewing kan op die oomblik bekostig om ’n hele vrag bale te koop nie.
Indien daar iemand is wat die Erasmus-gesin en ander boere in die omgewing kan help, kan hulle me. Erasmus skakel by 082 468 5815.




