Local newsNews

Nadine praat oor slange en spinnekoppe

Vrou pas wettige en gelisensieërde reptiele vir eienaars op wanneer hulle met vakansie gaan of wanneer die dier siek is.

SECUNDA – Me. Nadine Erasmus het sedert haar kinderdae van goggas, spinnekoppe en slange gehou.

Sy lewer nou vertonings by skole en leer kinders meer van dié soort diere wat meeste mense sal wil vermy of selfs sal doodmaak.

Me. Erasmus leer kinders watter insekte en reptiele giftig is en watter hulle wel kan vang en watter nie.

Kinders word ook geleer dat hulle eers toestemming by hul ouers moet kry voordat hulle enige dier aanhou.

“Dit is baie belangrik dat kinders ook moet weet hóé om byvoorbeeld ’n slang te vang en te hanteer.

“Kinders bly nuuskierig en ouers weet nooit waarmee hulle vorendag kan kom nie.

“Ek was nog altyd lief vir diere, maar veral insekte en reptiele.

“Ek het eers ’n skerpioen as troeteldier begin aanhou wat my pa vir my gekoop het.

“Hy het altyd gesê dat ek ‘Miss Doolittle’ was omdat ek altyd so goed met alle diere kon werk.

“Dit verwys na die film van Doctor Doolittle wat diere kan verstaan en met diere kan kommunikeer,” het me. Erasmus vertel.

Nadat sy alles van skerpioene geleer het en wat ’n skerpioen se behoefte is, het sy ook ’n spinnekop en daarna slange begin aanhou.

Sy het toe ook met slange, rotte, muise, spinnekoppe en insekte en diere begin teel.

Me. Erasmus het later haar eie winkel op Secunda oopgemaak.

“Ek maak seker dat ek soveel moontlik van elke dier, reptiel en insek weet wat ek aanhou.”

Dit is waarom sy weet hoe om reptiele te behandel wanneer hulle siek of mishandel is.

Van die slange sal nie weer in hul eie habitat kan aanpas nie omdat hulle ongeneeslike siektes opgedoen het.

Dit is waarom dat me. Erasmus van die slange se bekke moet skoonmaak en help eet.

Sy neem baie reptiele in haar sorg wanneer hulle mishandel word.

Sy hou nie al die slange wat sy red nie, ook nie dié wat volkome genees het nie.

Nadat die reptiel volkome herstel het, word dit weer vrygelaat.

Me. Erasmus moedig mense aan om nie slange, spinnekoppe en ander reptiele dood te maak nie, maar om haar eerder te skakel om die diere te verwyder.

“Ek pas ook alle wettige en gelisensieërde reptiele vir eienaars op wanneer hulle met vakansie gaan of wanneer die dier siek is,” het sy vertel.

Me. Erasmus woon tans op ’n plaas waar sy diere makliker kan aanhou.

Indien jy enige navrae oor insekte en reptiele het of selfs ’n probleem met slange of spinnekoppe het, skakel me. Erasmus by 082 468 5815.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button