Bessie skryf roerende boodskap vir haar ma
Lulu Saunders sal gemis word.
Me. Bessie Fourie, wyle me. Lulu Saunders se dogter, het vandeesweek ’n hartroerende boodskap op haar Facebook-blad gepubliseer.
Dit het gelees: “My wonderlike moeder is laasnag in haar huis oorlede. Die weerlig het ’n brand veroorsaak en sy is oorval met bolle rook en het aan asma gely.
“Die suurstofbottel en stoof se gasbottels het almal ontplof.
“Sy is in haar huis verbrand en was baie lief vir mooi ornamente en haar papegaaie.
“Ek gaan ma baie mis. Dit is nou nie wat ek ’n dag voor my verjaardag wou hê nie.
“Ek hoop ma rus nou van al die pyn wat ma moes saamdra al die jare. Ek gaan alleen wees, dis vir seker, maar ek sal ma se hondekinders gaan haal en hulle kan by my kom aftree.”
Die pyn waarna me. Fourie in dié boodskap verwys het, kan dui op die dood van haar seun, mnr. Quintin Louw wat sowat vyf jaar gelede op die ouderdom van 32 dood is.
Volgens ’n bron het me. Saunders gesukkel om die dood van haar seun te verwerk.
Hy sou ook op 23 Februarie verjaar het.
Me. Saunders is Saterdagaand dood nadat die huis waarin sy gewoon het, deur ’n brand in puin gelê is.
Haar liggaam is in die kombuis gevind.
Sy en haar man, mnr William Saunders (58), was blykbaar alleen in die huis.
Volgens ooggetuies het die huis net na 8nm op 20 Februarie in Chris Hanistraat op Berthal aan die brand geslaan.
Die ondersoek deur die polisie se spesiale eenheid is steeds aan die gang.
Na wat verneem word, word me. Saunders se begrafnisdiens Vrydag in die PPK Kerk in Kerkstraat, Bethal gehou waarna sy in Trichardt begrawe sal word.
Sy laat haar man, drie kinders, me Bessie Fourie, me Andrea Zaayman, haar seun Andries (Nicky) Louw en ses kleinkinders en een agterkleinkind na.





