AfriForum en plaaslike ondernemings het verlede week hande gevat om slaggate op Bethal te herstel.
Die tak het op 1 Maart begin om slaggate op Bethal te herstel met die eerste fase wat R30 000 beloop.
Volgens AfriForum versuim die Govan Mbeki Munisipaliteit om die paaie in stand te hou en te herstel.
AfriForum het glo reeds op 9 Februarie die munisipaliteit met ’n formele skrywe op terme geplaas.
Volgens dié brief het AfriForum die munisipaliteit versoek om die slaggate te herstel, by gebreke waarvan AfriForum self kontrakteurs sou aanstel om die herstelwerk te verrig.
“Belastingbetalers het die reg tot basiese dienslewering.
“Indien die munisipaliteit versuim om hul grondwetlike plig na te kom, sal AfriForum met selfdoenaksies ingryp waarna ons die onkoste van die munisipaliteit sal terugeis,” het mnr. Chris Boshoff, AfriForum se assistentkoördineerder vir Mpumalanga, gesê.
“Ons pleidooie vir basiese dienslewering val op dowe ore en daarom het ons self aksie geneem,” het mnr. Aljay van der Merwe, AfriForum se Bethal-takvoorsitter, verduidelik.
“AfriForum gaan binnekort ’n dagvaarding teen die munisipaliteit uitreik om die onkoste van hierdie projek te verhaal.”
AfriForum het sy dank uitgespeek teenoor teenoor Cohen, Cronje & Van der Walt Prokureurs, PWC Motors en Meyer Elektries vir hul bydraes.
Govan Mbeki Munisipaliteit is genader vir kommentaar maar teen druktyd was daar steeds geen kommunikasie nie.







