AfriForum se Standerton-tak het op 12 Maart ’n skoonmaakprojek geloods waar hul bome korter gesaag het.
Volgens die burgerregte-organisasie moes dit gedoen word om die dorp en omliggende gebiede skoon te hou omdat die Lekwa Munisipaliteit dit nie doen nie.
’n Kettingsaag, snoeiskêr, boomsnykettingsaag, grassnyers asook ’n randsnyer moes aangekoop word.
Die eerste fase van die projek was om bome te snoei omdat dit die kragdrade en straatligte beïnvloed.

“Gedurende fase een het ons ’n totaal van nege bakkie-en waentjievragte se takke afgesny en weggery,” het mnr. Hillel Coetzer, voorsitter van AfriForum se Standerton-tak, gesê.
Mnr. Coetzer het ook gesê dat fase twee die skoonmaak van die begraafplaas sal wees, maar dit sal eers later gebeur.
Volgens mnr. Chris Boshoff, assistentkoördineerder vir Mpumalanga, sal AfriForum die rekening van hul onkoste aan die munisipaliteit stuur.
“Die munisipaliteit moet ons daarvoor vergoed, anders gaan ons hulle dagvaar,” het hy gesê.



