Brian waarsku seuns teen gevaarlike speletjie
Speletjies word veral onder jong seuns as ’n grap gesien en ’n manier om mekaar se manlikheid te meet.
SECUNDA – Wat na ’n ondskuldige speletjie gelyk het, kon dalk die oorsaak gewees het dat kanker in Brian Biljoen (17) se testikels begin vorm het.
Wanneer seuns op die skool se stoepe, speelgrond of sportgronde verby mekaar stap, slaan hulle mekaar glo op die geslagsdele.
Dié speletjie word veral onder jong seuns as ’n grap gesien en as ’n manier om mekaar se manlikheid te meet.
As jy nie die pyn kan hanteer of dit as ’n grap sien nie, word jy gespot en as ’n swakkeling uitgekryt.
“Ek was in gr. 6 en veral van die ouer seuns het ons gereeld op ons geslagsdele geslaan.
“Ek het die volgende dag gevoel dat iets nie reg was nie.
“My testikels was regtig seer, maar ek en my pa het gedink dat dit dalk weens groeipyne was.
“’n Paar dae later was daar ’n baie groot knop en dit was seerder.
“Ons huisdokter het my vir toetse gestuur en ek is met kanker gediagnoseer,” het Brian vertel.
Hoewel daar ’n geskiedenis van kanker in die familie is, was dit vir dokters vreemd dat daar op só ’n jong ouderdom ’n kankergewas by hom gevind is.
Dokters was nie seker waarom dit gebeur het nie, maar die speletjie kon vir seker die sneller agter die groei van die gewas gewees het.
Brian moes ’n operasie ondergaan sodat die gewas verwyder kon word.
“Ek was baie onseker oor alles.
“Nadat ek gehoor het dat ek ’n operasie moes kry, het ek gedink dat ek my geslagsdele gaan verloor.
“Die dokters kon gelukkig alles uitsny.
“Ek kon na die operasie vir twee maande nie loop nie en het baie min beweeg.
“My pa moes my help om te bad en aan te trek.
“Die toetse na die operasie het gewys dat ek nou kankervry is,” het hy met ’n breë glimlag gesê.
Brian het besluit dat hy ’n voorbeeld vir jonger seuns wil wees en hulle van die gevare van dié speletjie vertel.
Wanneer hy en van sy vriende wat weet dat hy kanker gehad het, sien dat kinders dié gevaarlike speletjie speel, stop hulle hulle dadelik en vertel vir hulle van die moontlike nagevolge.
Tenspyte van die trauma wat hy deurgemaak het, is hy ’n vriendelike en opgeruimde seun.
Brian draf gereeld en neem ook aan sport by die skool deel.
Hy wil oefen om aan fietsrykompetisies deel te neem en dalk eendag ook professioneel mee te ding.



