Wie sou nou kon dink dat tuindienste in die vorm van boerbokke bestaan?
Glo jy dit nie?
Wel, maak ‘n draai by die begraafplaas in Walter Sisulurylaan waar bokke so dan en wan die gras kort hou.
Diegene wat geliefdes aan die dood afgestaan het en hul grafte besoek, word deur bokke met bekke vol gras by dié ingang ontvang.
Die Standerton Advertiser het ‘n besoek by die begraafplaas afgelê en dit blyk of daar waar die Ingelse ter ruste gelê is, dié enigste gebied is wat huidiglik in stand gehou word.
Ry jy bietjie verder aan dan begin die lang gras jou kar se onderdele kielie.
Wie waar begrawe is weet net familie omdat die name op die grafstene plek-plek toegegroei is.
Teen die lyndraad wapper ‘n papier of twee en selfs die bokke lyk verbysterd oor dogtertjie-skoene wat op ‘n hopie naby die grondpad neergegooi is.
‘n Blou trekker met ‘n wa en ‘n paar mans agterop staan doer teen ‘n heining en soos die tyd aanstap rol die wiele nader na die uitgang se kant toe, agterop steeds net die mans, maar niks sakke gras nie.
‘n Ander man se beeste wat op die horison te voorskyn kom, hunker ook grafte toe, hieroor was al in ‘n vorige uitgawe berig, maar tevergeefs.
Sien al die foto’s HIER
By Meyerville lyk dit nie veel beter nie, grafte langs die paadjie se gras lyk gesny, maar as jou oog bietjie verder en dieper in die rye afkyk, sien jy ook net toegegroeide grafte en deurgaans ‘n blommeruiker wat se kleur deur die bosse probeer breek.
Die Standerton Ibis kon nie met die munisipale bestuurder, mnr. Linda Tshabalala, in aanraking kom nie en het desnoods met ‘n bron van die parke- en onspanningsafdeling in verbinding getree.
Volgens hom het die span reeds begin met instandhouding van die begraafplaas in Walter Sisulurylaan, maar hy het ook bevestig dat hulpbronne in die vorm van gereedskap beperk is.
Oor die bokke wat vrylik in die begraafplaas rondbeweeg, het hy gesê dat hul daarvan bewus is.
“Weens die heinings wat bykans drie jaar gelede gesteel is, is dit vir ons ‘n uitdaging met vee wat grafte beskadig.
“Dringende ingryping van ander rolspelers buite die munisipaliteit is nodig om die probleem aan te spreek.”
Volgens hom wei die bokke ook op die brandweer en met tye die verkeersafdeling se perseel. Oor die vreemde verskynsel van die skoene het hy genoem dat hy nie verbaas sal wees indien dit verband hou met sataniese rituele nie.
“Ons het al in die verlede baie vreemde dinge by die begraafplase opgemerk wat uitgebrande katte, kerse wat gebrand word en bloed oor grafte insluit.”
Ten slotte het hy onderneem om die werk in Walter Sisulurylaan af te handel en daarna instandhouding by die begraafplaas in Meyerville ook te doen.
LEES OOK:
GALERY:
Begraafplaas benodig instandhouding



