Deon Mocke dood in huis aangetref
Die liggaam van mnr. Deon Mocke is Saterdag om 1.30vm in sy sitkamer aangetref.
Die liggaam van mnr. Deon Mocke is Saterdag om 1.30vm in sy sitkamer aangetref.
Hy is vermoedelik dood weens ’n noodlottige kopwond.
Die polisie vermoed geen vuilspel nie.
Mnr. Mocke het blykbaar weens ’n liefdesteleurstelling sekere uitlatings op Facebook gemaak wat daartoe gelei het dat sy voormalige vriendin Vrydagaand na die Secunda Polisie Stasie toe is om hulp te vra.
Sy was in kontak met mnr. Mocke deur die loop van Vrydagaand en Saterdagoggend.
Mnr. Mocke het blykbaar ook ’n sms aan familielede gestuur waarin hy gepraat het oor sy verhouding en die liefdesteleurstelling.
Die Secunda Polisie is om 1.30vm na sy huis ontbied toe sy familie hom nie in die hande kon kry nie.
Sy liggaam is in die sitkamer van sy huis waar hy alleen gewoon het, gevind.
Mnr. Mocke se ma en broer was op die toneel.
Sy voormalige vriendin sou Saterdagoggend die laaste van haar besittings uit sy huis verwyder.
Hulle het al ’n wyle nie meer saamgebly nie en hoewel hulle oorspronklik ’n paartjie vir ’n jaar was, het hulle reeds vroeg vanjaar die verhouding verbreek.



