Local newsNews

Spinnekoppe is belangrik vir ekostelsel

Lees meer oor watter vier spinnekoppe die gevaarlikste is.

BETHAL – Mnr. Frans Pretorius waag graag sy lewe met giftige diere deur hulle te bestudeer.

Hy doen reeds die afgelope twee jaar navorsing oor spinnekoppe en het vir dié doel vir ’n tyd een aangehou.

Mnr. Pretorius is eenkeer deur ’n swart knopiespinnekop op sy hand gebyt.

Hy het gelukkig geweet wat om te doen en hoe om dit te behandel.

Hy het in erg pyn en met ’n lyf wat geruk het weens spierspasmas, by die hospitaal aangekom.

Niemand het geweet wat om te doen nie omdat daar baie selde iemand met dié simptome opdaag.

Gelukkig kon mnr. Pretorius verduidelik en het die telefoonnommer van ’n mediese dokter in die Kaap vir hulle gegee, waarna hy die simptome van mnr. Pretorius kon bevestig en die regte medikasie voorgeskryf het.

Die teengif moes eers bestel word en is vinnig aangestuur sodat daar so gou moontlik met sy behandeling kon begin.

Vandag kan mnr. Pretorius uit ondervinding praat en sulke byte, simptome en spinnekoppe identifiseer.

“Die mannetjies swart knopiespinnekop is vyf keer kleiner as die wyfie en sy monddele is heeltemal te klein om ’n mens se vel te penetreer,” het mnr. Pretorius genoem.

“Daar is ook baie verskillende spesies van die knopiespinnekop.

“Die bruin knopiespinnekop is die een met die oranje uurglasvorm onder die buik.

“Mense is nie genoeg oor die spinnekop ingelig nie en beskou enige spinnekop as gevaarlik.

“Dit is verstaanbaar dat mense enige spinnekop sal doodmaak, maar dit is onnodig want die spinnekop speel ’n baie belangrike rol in die ekostelsel,” het mnr. Pretorius verduidelik.

Die vier mediesgesproke gevaarlikste spinnekoppe is die swart- en bruin knopiespinnekop, die vioolspinnekop en die ses-oogsandspinnekop wat gewoonlik in woestyngebiede voorkom.

Die knopiespinnekop het neorotoksiese gif wat die senuweestelsel aanval, terwyl die ander drie gevaarlike spesies sitotoksiese gif het wat die weefsel aanval, soos die vioolspinnekop.

Die ander spinnekoppe het gif, maar dit is nie sterk genoeg om ernstige mediese gevolge te hê nie, of die spinnekop se monddele is nie genoeg ontwikkel om te kan byt nie.

Mnr. Pretorius het al 16 spesies spinnekoppe op een erf opgemerk en genoem dat die bruin knopiespinnekop nogal volop is, veral in Gauteng.

Die swart knopiespinnekop is baie skaars.

Mnr. Pretorius het gesê mense moet nie spinnekoppe doodmaak nie, maar hulle met die hulp van ’n vel papier en ’n bakkie na die tuin sal neem.

Hy het voorgestel dat ’n mens jou beddegoed voor slapenstyd deurgaan en voordat jy jou skoene aantrek.

Daar is soveel interessante spinnekoppe wat elkeen sy eie manier het van hoe om ’n web te spin, sy kos te vang en op verskillende maniere te eet, dat mnr. Pretorius mense aangeraai het om kennis te versamel en die spinnekop sy plek in die samelewing te gun.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button