MunicipalNews

Standerton tweede grootste sondebok in Mpumalanga

Standerton stel meer as 50 000 E. coli per 100 ml water in natuurlike waterbronne vry

Die burgerregte-organisasie AfriForum, het verlede maand die gehalte van drink- (bloudruppel) en rioolwater (groendruppel) in dorpe in Mpumalanga getoets.

Die kontrole van drinkwater in gemeenskappe vorm deel van AfriForum se #skoonwater-inisiatief.

“Ons wil deurlopend verseker dat Suid-Afrikaners se grondwetlike reg op toegang tot skoon, lopende water, beskerm word,” het mnr. Johann Weber, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Mpumalanga-Oos gesê.

Bloudruppel

Die aanvanklike resultate het aangedui dat vier van die 14 dorpe se water nie geskik is vir menslike gebruik nie weens baie hoë konsentrasie nitrate en E. coli wat in die drinkwater voorkom.

In vergelyking met 2015 se resultate, toon die 2016-verslag ’n merkbare verswakking in watergehaltebestuur.

Dorpe wat aan minimumstandaarde gemeet is, is die volgende:

Mpumalanga water
Bloudruppel. Klik op die foto om te vergroot.

 

Volgens mnr. Hillel Coetzer, AfriForum se streekskoördineerder vir Mpumalanga-Wes, het die drinkwater in Belfast, Lydenburg, Piet Retief en eMalahleni (Witbank) nie aan die vereiste mikrobiologiese standaarde voldoen nie.

“AfriForum het die plaaslike gemeenskappe gewaarsku om tot verdere kennisgewing nie die water te drink nie. Munisipaliteite is binne 24-uur in kennis gestel en tot aksie geroep.

“Water het kort daarna in eMalahleni aan die vereistes vir gesonde drinkwater voldoen, terwyl water in Lydenburg slegs in een gebied nie aan die gehaltestandaarde voldoen het nie.”

Groendruppel

AfriForum het ook die rioolwatergehalte in 13 dorpe getoets.

Daar is bevind dat slegs vier van die dorpe se rioolwater binne die vereiste mikrobiologiese standaarde val.

Agt dorpe het dus nie aan die regulasies voldoen nie:

  • Belfast stel meer as 2 400 E. coli per 100 ml water in natuurlike waterbronne vry
  • Bethal stel meer as 100 000 E. coli per 100 ml water in natuurlike waterbronne vry
  • Delmas stel meer as 1 500 E. coli per 100 ml water in natuurlike waterbronne vry
  • Lydenburg stel meer as 1 000 E. coli per 100 ml water in natuurlike waterbronne vry
  • Piet Retief stel meer as 1 000 E. coli per 100 ml water in natuurlike waterbronne vry
  • Secunda stel meer as 2 000 E. coli per 100 ml water in natuurlike waterbronne vry
  • Standerton stel meer as 50 000 E. coli per 100 ml water in natuurlike waterbronne vry
  • Witbank stel meer as 4 000 E. coli per 100 ml water in natuurlike waterbronne vry

 

Mpumalanga water 2
Groendruppel. Klik op die foto om te vergroot.

 

Volgens mnr. Weber sal AfriForum die nodige stappe neem om toepaslike aksies in werking te stel in die dorpe wat nie aan die standaarde voldoen nie, omdat die 2016-groendruppelverslag toon dat daar ʼn merkbare verval is in watergehaltebestuur regoor die provinsie.

“Dit is belangrik dat drink- en rioolwatergehalte deurlopend getoets word.

“Ons moet dié lewensnoodsaaklike bron beskerm en seker maak dat die Bloemhof-gebeure van 2014 nie weer herhaal word nie,” het mnr. Weber bygevoeg.

SMS die naam van jou dorp na 45350 (R1) om betrokke te raak by AfriForum se inisiatief vir die volhoubare voorsiening van skoon water en die beskerming van waterbronne.

(Persverklaring deur AfriForum uitgereik – aangepas vir publikasiedoeleindes).

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Wayne van der Walt

Wayne van der Walt, with around 15 years in the media industry, is editor of Highvelder Newspaper. His accolades include Frewin Awards for Newspaper of the Year and Front Page of the Year, and FCJ Photographer of the Year, among other honours.

Related Articles

Back to top button