
BETHAL – Inwoners is raad-op oor die kragonderbrekings en dat die krag daagliks vir bykans ’n uur op ’n keer af is.
Volgens me. Marietjie Fourie, ’n verteenwoordiger van die DA, het die Govan Mbeki Munisipaliteit gesê dat ’n transformator uitgebrand het.
Die munisipaliteit sou glo ’n nuwe een gekoop het.
Me. Fourie het later gesê dat die transformator nie meer vervang sou word nie, maar reggemaak sou word.
Mnr. Bheki Kubheka, waarnemende hoof van kommunikasie en bemarking, het per epos gesê dat die transformator nie die probleem is nie, maar dat kabeldiefstal en oorlading dié onderbrekings veroorsaak.
Mnr. Kubheka het gevra dat die publiek elektrisiteit spaarsamig moet gebruik en dat die munisipaliteit daaraan werk om die probleem op te los.



