Die Standerton Ibis het weer gaan ondersoek instel by die begraafplaas in Walter Sisulurylaan.
Ondanks 8 April se beriggewing in die Ibis, is daar steeds geen sigbare verbetering nie.
Gedeeltes van die begraafplaas se gras is gesny, maar o wee, moet liefs nie verder en dieper met die paadjie aanry nie.
Diekeer was daar geen amptelike verwelkomingsparty in die vorm van bokke by die ingang nie, maar dit is slegs ’n kwessie van tyd voordat vee hul weer hier tuismaak, omdat die heining jare gelede glo gesteel is.
Die dogtertjieskoene wat onder ’n boom gestort is, lê maar nog net so in die skadu.
Vullis is ook nog oral tussen grafte verstrooid en word selfs langs ’n vullisdrom – wat ietwat soos ’n ‘longdrop’ lyk, gegooi.

Volgens ‘n bron van die parke- en onspanningsafdeling is hulpbronne in die vorm van gereedskap die grootste uitdaging om die nodige werk te kan doen.
“Ek kan slegs die gang vee as daar vir my ’n besem gegee word,” het hy moedeloos geantwoord toe hy gevra is hoe lank hul nog met instandhouding doenig gaan wees.
Hy het gesê dat die meeste gereedskap stukkend is en dat hy moet klaarkom met wat hy het.

Volgens hom het sy span egter ander verantwoordelikhede wat tans prioriteit kry bo die begraafplase.
“Ons is gesê om gras wat die sigbaarheid van padtekens belemmer nou eers aan te pak.”
Intussen het mnr. Adriaan Stoltz wat deur Kasselman Veiligheidsdienste aangestel is, self begin skoonmaak in die ou begraafplaas oorkant die skougrond.
Die Lekwa Munisipaliteit is via ’n e-pos gevra vir kommentaar.
Sodra enige kommentaar ontvang word sal die Standerton Ibis lesers op hoogte bring.
LEES OOK:
Daar loop ‘iemand’ oor my graf
GALERY:
Begraafplaas benodig instandhouding



