Weduwee moet grafsteen herstel na vandalis dit weer breek
Me. Felicia Horak smeek dat die persoon wat haar man se grafsteen herhaaldelik beskadig, hom in vrede moet laat rus.
SECUNDA – Me. Felica Horak se man, Ettienne, is op 29 Junie 2014 aan ’n hartaanval oorlede.
Hulle was vir meer as drie jaar saam, maar net ’n jaar en vier maande getroud.
’n Sigbaar ontstelde me. Horak het vertel van die angswekkende verloop van hulle laaste oomblikke saam.
“Hy het Vrydag by die huis gekom en vir my gesê hy is vreeslik moeg.
“Ons het het ’n rustige naweek by die huis deurgebring en Sondag was ons in ons slaapkamer, besig om te gesels.
“Die volgende oomblik het hy net stil geword en toe ek opkyk, was hy blou in die gesig.
“Ek het opgespring en ’n foon gegryp, maar kon nie iemand skakel nie omdat daar iets fout was met al ons telefone.
“Ek het my man probeer optel om in die kar te laai en ek het mond tot mond asemhaling gedoen.
“Ek het hom vier keer probeer terugkry, maar dit was te laat.”
Volgens sy dokter is die rede vir mnr. Horak se dood verskeie hartaanvalle, kort na mekaar.
Mnr. Horak is op 4 Julie 2014 in die Secunda Begraafplaas begrawe.
Met die eerste herdenking van sy dood, het me. Horak sy graf besoek.
“Die grafsteen was heeltemaal stukkend en uitmekaar gebreek.
“Ek het met die begrafnisondernemers op Trichardt gepraat en hulle het ’n kenner uitgestuur.
“Volgens hulle is die grafsteen doelbewus beskadig.
“Omdat dit so duidelik vandalisme was, moes ek maar self betaal vir die herstel daarvan.”
Familielede het saamgestaan en me. Horak gehelp om die herstelkoste te dra.
Nou, twee jaar later, is mnr. Horak se grafsteen weer doelbewus gebreek.
“Ek verstaan nie hoekom dit net sy grafsteen is nie.
“Geen ander steen in die begraafplaas word so gebreek volgens wat ek kon sien nie?”
Me. Horak meen die wêreld kan baie wreed wees teenoor weduwees en wewenaars.
“Ewe skielik sien die mense jou as enkellopend.
“Dit is glad nie die geval nie.
“Ek het nie gekies dat die liefde van my lewe, my asem, van my weggeneem word nie.”
Volgens me. Horak het haar oorlede man volwasse kinders, maar hulle woon nie naby nie en daar is nie veel kontak met hullel nie.
Sy self het nie kinders nie en was oorspronklik ’n eiendomsagent, maar die spanning van haar man se dood en die onsekerheid oor die herhaalde vandalisme van sy grafsteen, het haar gesondheid begin affekteer.
“Ek het nooit gesukkel nie, maar nou het ek skielik hoë bloeddruk, ek het ’n hartprobleem en ek sukkel om te slaap.
“Ek kan nie dink hoekom iemand so iets sal doen nie.
“My man was ’n ‘gentleman’ en mense het baie respek vir hom gehad.”
Sy kan glad nie indink wie moontlik hierdie soort skade aan haar man se grafsteen wil doen nie.
“Ek wil net hê dit moet stop.
“Asseblief, los my man dat hy in vrede kan rus en los my sodat ek kan begin werk aan ’n pad vorentoe.
“Ek sal nooit oor sy dood kom nie, maar ek weet ek moet probeer vorentoe beweeg.
“Ek kan nie dit doen as ek elke nou en dan die grafsteen moet herstel nie.”
Die herstelkoste van die grafsteen beloop sowat R500 op ‘n slag.
Me. Horak meen die wêreld kan ’n koue, bose plek wees vir mense wat hulle eggenotes verloor het.
“Is daar nie êrens in die dorp waar weduwees en wewenaars bymekaar kan kom vir ondersteuning nie?
“Ek kan nie ’n psigiater bekostig nie, maar ek weet ek het hulp nodig.”
”






