Dieter se roeping nou anders
“Ek sal graag enige iemand help wat desperaat is vir hulp.”
SECUNDA – Mnr. Dieter Uken is ’n sanger, seremoniemeester en musikant en is landwyd as kunstenaar bekend.
Hy is 12 jaar gelede met breinkanker gediagnoseer en het gesê dit was ’n groot skok omdat hy nie siek gevoel het nie.
Die gewas op sy brein is verwyder en hy moes rekonstruktiewe chirurgie aan sy gesig en oog ondergaan.
Hy het ses eenhede bloed verloor tydens die operasie, wat nie vervang kon word nie.
“Ek het gevoel hoe ek doodgaan.
“Die fisiese siekte kon ek hanteer, maar die idee dat ek besig was om dood te gaan, het my bang gemaak.”
Mnr. Uken is met die konsep van dood en lewe na die dood gekonfronteer.
“Ek het vir die eerste keer in my lewe in die intensiewe sorgeenheid gebid.
“Ek was nie seker vir wie nie, maar ek het geweet dat my lewe nie só kon aangaan nie.
“Al wat ek kan onthou, is dat ek gevra het om gered te word.”
Mnr. Uken het gesê dat hy op daardie stadium enige iets of iemand se hulp sou aanvaar.
“Ek het vir dae lank met myself geworstel.
“Die pad na herstel was moeilik en eensaam, maar toe ek geïdentifiseer het wat die probleem was, het my lewe verander.”
Mnr. Uken het besef dat sy lewe op ’n ramp afgestuur het.
“Ek was anders en roem het na my kop gegaan, maar ek het my demone in die gesig gestaar en oorwin.”
Sy doel vir sy lewe het verander en hy het begin om ander mense te bedien.
Hy het by ’n kerk aangesluit en deel van die gemeente geword.
Sy bediening is om mense te bevry.
Mnr. Uken werk veral met mense wat aan depressie ly met simptome soos om hulself te sny.
Hy bied ook kursusse aan om ander mense te leer hoe om mense wat aan verslawing ly en by die okkulte betrokke is, te bedien.
Mnr. Uken het ’n vol program as kunstenaar, maar as hy by die huis is, is hy ten volle by die gemeenskap betrokke.
“Ek sal altyd ’n kunstenaar wees.”
Hy doen steeds landwye optredes, maar leef sy bediening uit.
“Ek help graag enige iemand wat desperaat is vir hulp.
“As iemand nie self besluit dat hulle ’n probleem het nie, is die tyd om hulle te help nie reg nie.
“Dit is ’n persoonlike besluit en as daardie persoon besef dat hy of sy ’n probleem het, sal ek met liefde intree.”




