Tannie Miemie inspireer ander
Sy word November reeds 80 jaar oud en verkies om nie ’n groot partytjie te hê nie maar, eerder ’n dank diens te hou.
BETHAL – Me. Miemie Roos verkies om in die agtergrond te wees en haar grootste getuienis is dat sy alles kan vermag deur Here se genade.
Sy is al 17 jaar ’n inwoner van Palm-oord Residentia en word in November 80 jaar oud.
Me. Roos verkies om nie ’n groot partytjie te hê nie, maar dat ’n dankdiens eerder gehou word.
Sy en haar man het in een van die woonstelle ingetrek en me. Roos woon steeds daar na sy dood in 2005.
Tannie Miemie gebruik elke geleentheid om oor die Here te praat en wat Sy genade vir haar beteken.
“Die lewe gaan by ons verby en eers wanneer dit te laat is, wonder ons wat nou?
“Mense gee hulself nie meer tyd om te herstel en hul batterye te laat laai nie.
“Almal moet tyd maak om te rus en kan nie net aanhou werk nie.
“Ons vergeet ook om tyd te maak en stil te word vir die stem van God,” het sy vertel.
Me. Roos kook steeds haar eie kos en is ook lief daarvoor om te bak.
Wanneer sy beskuit bak, verkoop sy dit vir die minimum om net die bestanddele se koste te dek sodat sy weer beskuit kan bak.
Dit is haar manier om haar medemens te help en te dien.
Me. Roos se suster woon in Pietersburg en Tannie Miemie ry alleen vanaf Bethal daarheen om vir haar suster te gaan kuier.
“Ek het vroeër vanjaar my suster in Pietersburg gaan haal en ons het daarna na Tzaneen gery en verskillende plekke besoek,” het sy gesê.
Me. Roos neem borduurlesse op Ermelo en Benoni en hou ook daarvan om kwiltwerk te doen.
Brei en hekel is van haar ander stokperdjies, maar die borduurwerk neem tans meeste van haar tyd in beslag.
Hoewel haar borduurwerk van hoë gehalte is, sien sy dit nie as iets wat sy kan verkoop of uitstal nie.
“Ek hou my besig en doen al dié dinge omdat dit vir my ’n plesier is.
“Wanneer ek iets maak wat mooi is, gee ek dit vir ander mense of gee dit vir iemand as ’n geskenk,” het sy verduidelik.
Me. Roos is ’n inspirasie vir baie van haar vriendinne en self inwoners van Bethal.
Baie mense het al vertel dat hulle graag soos sy sal wil oud word en besig bly.






