Vier rowers het op Maandag, 19 September omstreeks 9.15vm by Foschini in die Towers Sentrum ingebreek.
Die oogkundige Mellins se alarm het afgegaan wat Kasselman Veiligheidsdienste na die toneel gebring het.
Kasselman het die Standerton Polisie in kennis van die gewapende roof gestel.
Volgens die bestuurder van die klerewinkel, me. Tania Franco, was sy en een van die personeel in die stoor toe die een rower hulle beveel het om na die kantoor te gaan.
Die booswig het gedreig om hulle te skiet en die ander personeel is ook na die kantoor waar hulle beveel is om op hulle knieë te gaan en vasgebind is.
Die kluis wat oopgemaak is, het afgesien van die selfone, egter net R200 opgelewer en die misdadigers het probeer om met klere weg te kom wat in die haas agtergelaat is.

Die personeel is aangesê om 15 minute te wag anders sou hulle geskiet word.
Me. Franco het aangedui dat 551 items (selfone/tablette) gebuit is.
Die personeel het gesê dat die mans verlede Donderdag in die winkel was en navraag oor selfone gedoen het.
Volgens Kasselman het die rowers in ’n groen Nissan Hardbody met ’n kap hulle uit die spore gemaak en is op die R23 Johannesburg-pad opgemerk.
Die polisiestasies op Val en Greylingstad is in kennis gestel.
Die Standerton Advertiser het slegs dié inligting beskikbaar teen druktyd gehad.


