Heldhaftige Altus red twee boeties
Toe het hy straat-af gehardloop na 'n groep munisipale werkers en hulle gevra om die brandweer te ontbied.

‘n Vuur wat sy oorsprong in hul huis se dak gehad het, het verlede Dinsdag die Boshoff-gesin se lewe in ‘n oogwink verander.
Banie Boshoff vertel dat hy omstreeks 08:30 die seuns by die skool gaan haal het omdat hulle siek gevoel het.
Nadat hy vir hulle medisyne gegee het, het hy gesê hulle moet bed toe gaan sodat hulle die volgende dag beter kon voel.
Banie het die seuns gelos om te rus, terwyl hy gou bank toe moes gaan en nog medisyne by die apteek kry.
Altus (11) het in sy kamer gelê en slaap toe hy skielik wakker skrik en merk dat iets nie pluis is nie.
Toe hy besef het dat die huis brand, het hy dadelik na sy twee jongers broers, Darius (7) en Harry (4), begin soek.
Hy het hulle in die nuwe, onvoltooide aangeboude deel van die huis gevind waar hulle aan die speel was.
Altus het dadelik vir Darius gesê om Harry by die venster uit te help, waarna hy self vir Darius uitgehelp het.
Dis eers toe hulle buite was dat hulle die vlamme uit die dak sien kom het.
Altus het toe oor die muur gespring om die buurman om hulp te vra.
Toe het hy straat-af gehardloop na ‘n groep munisipale werkers en hulle gevra om die brandweer te ontbied.
Oorlaaide kragdrade was vermoedelik die oorsaak van die brand wat in die dak van die kamer langs die een waar Altus geslaap het, begin het.
Alles in dié kamer (strykkamer) is tot op die grond verbrand en die groot gat in die dak getuig van die vuur wat vinnig na die ander vertekke versprei het.
Dit wat nie deur die vlamme vernietig is nie, is onbruikbaar weens ‘n swart laag roet of deurdrenk met water.
Tog straal die gesin van dankbaarheid. ‘n Beroep op facebook deur hul susterskind, Simone Bothma, vir ‘n paar kledingstukke vir die kinders het verder versprei as verwag met hulp wat van oral ingestroom het.
“Ek het gehoop om miskien een of twee hempies vir die seuns te kry, maar toe ek weer my oë uitvee, was daar ‘n bakkievrag vol klere vir die kinders en die volwassenes,” vertel Simone.
Mense het van meubels, beddens, kontant, gordyne, handdoeke en beddegoed tot toiletware vir die gesin geskenk.
Hulp het selfs van Ballito, Rustenburg, Breyten en Standerton ingestroom.
Die ma van vier, Elsa Boshoff, se emosies oorweldig haar.
“Ek het nog altyd gedink dis elkeen vir homself, niemand gee om vir die ander een nie en dat jy maar alleen moet suffer.
Maar die hulp en liefde wat Ermelo se gemeenskap aan ons gebied het, is werklik bo verwagting, bloot net fenomenaal,” het sy gesê.
Sy vertel ook dat hulle die warmte, samehorigheid en liefde van mense wat hulle nie eers ken nie, glad nie verwag het nie.
Banie en Elsa is baie dankbaar dat Altus kopgehou het en dat hul grootste skat, hul kinders, nie deur ‘n vlammehel van hulle af weggeneem is nie.



