’n Taxi-eienaar van Daggakraal, mnr. Velly Thomas Nkosi (46), is na bewering koelbloedig doodgeskiet buitekant sy huis ten aanskoue van sy vrou en kinders.
Twee mans het vermoedelik Maandag, 3 Oktober tussen 5nm en 6nm by mnr. Nkosi se huis opgedaag en aangedring om hom te spreek.
Volgens die polisie het die mans in ’n wit motor gevlug nadat hul mnr. Nkosi geskiet het.
Die bestuurder het ’n ongeluk met die voertuig voor Wakkerstroom gemaak en een van Wakkerstroom se speurders het niksvermoedend by die toneel gestop om hulp te ontbied.
In die stadium was daar net een persoon in die voertuig.
’n Vragmotor het intussen ook by die toneel gestop terwyl die beampte nog op die foon besig was, waartydens hy in kennis gestel is dat die voertuig soos deur hom beskryf, deur die Amersfoort Polisie gesoek word insake ’n vermoedelike verbintenis met die Daggakraalmoord.
Die slinkse verdagte het sy kans waargeneem en ’n saamrygeleentheid met die vragmotor geneem onderwyl die speurder se aandag afgetrek is.
Flinke optrede van die speurder het die vragmotor vinnig ingehaal waartydens hy meegedeel is dat die verdagte by ’n plaas afgelaai is.
’n Patrolliewag het die verdagte langs die pad, nie ver van die ongelukstoneel gekry, waar hy staan en duimgooi het.
Die verdagte is deursoek en ’n wapen is in sy besit gevind.
Die wapen is in sy naam gelisensieer.
Die verdagte wat van Bramley naby Alexandria afkomstig is, is in hegtenis geneem en het op 5 Oktober in die hof op Amersfoort verskyn.
Geen verdere inligting is in die stadium beskikbaar rakende die ander man wat na bewering teenwoordig was tydens die moord nie.
Die ondersoek duur voort.
’n Moordsaak is geopen.


