BETHAL – Me. Ilze Schoonbee se liggaam is Vrydagoggend, 14 Oktober in ’n Wendy-huis op haar erf gekry.
Volgens die polisie is sy vermoedelik tussen 11nm en middernag die vorige aand vermoor.
Me. Schoonbee het die aand van haar dood ’n werksfunksie bygewoon en een van haar kollegas het haar omstreeks 10.30nm by die huis afgelaai.
Me. Schoonbee het nie die volgende dag by die werk opgedaag nie en haar werkgewer het ondersoek gaan instel.
Hy het op haar liggaam in die Wendy-huis afgekom.
“Sy het in die Wendy-huis in ’n bondeltjie opgekrul gelê en dit het gelyk of daar gepoog is om haar met ’n stuk plastiek te bedek,” het ’n ooggetuie vertel.
Sy is vermoedelik oor die kop geslaan, maar die forensiese ondersoek is nog nie afgehandel nie.
Me. Schoonbee was geklee in die klere wat sy na die werksfunksie aangehad het, maar het haar pantoffels gedra.
“Ons verstaan dit nie. Waarom haar vermoor?,” het me. Schoonbee se dogter, me. Izelde Zwarts, gevra.
“Kon hulle nie net geneem het wat hulle wou en haar gelos het nie?
“Almal is nog onseker oor wat gebeur het.
“Ek het gelukkig gistermiddag met haar gepraat,” het sy met oë vol trane vertel.
Dit blyk dat die Schoonbee-gesin se bure niks gehoor of iets verdags opgemerk het nie.
Me. Schoombee se handsak en juwele is weg en al die kamers in die huis is omgekrap en die inhoud van die kaste is uitgegooi.
Die deur waartoe die moordenaars klaarblyklik toegang tot die huis verkry het, se sleutel was nog aan die binnekant in die slot.
Haar hond, ’n boerboel, is ook in die tuin dood gevind.
“Ek weet nie of hulle die hond doodgesteek of vergiftig het nie.
“Die hond was baie aggressief.
“Hy wou almal opeet wat verby die huis beweeg het,” het ’n familievriend gesê.
Mnr. Tiaan Schoonbee, seun, het gesê: “Die pad vorentoe is die moeilikste.
“Ek het nou soveel woede en seer in my.”
Me. Schoonbee was alleen by die huis omdat haar man, mnr. Willem Schoombee, in die Kaap by sy ma was wat op sterwe lê.
Die gemeenskap het hul skok op sosiale media gedeel.
“Ek is vier jaar al weg uit Bethal, maar almal daar voel soos familie. Ek het nie woorde nie. Sy was ’n amazing vrou, het altyd ’n glimlag gehad om te deel met almal. Sterkte aan haar man en kinders en die families. Mag die Here julle styf teen sy bors hou.”
“…my hart ruk ook onder my trui…die lewe deel nie meer roomys uit nie en ek sukkel om die ekwilibrium te begryp … niks is meer okay nie.”
Die begrafnisreëlings was teen druktyd nog nie bekend nie.
Me. Schoonbee laat haar man, twee kinders en ’n kleinkind na.





