Die dispuut tussen die Dierebeskermingsvereniging en die Lekwa Munisipaliteit rakende rondloperbeeste is steeds nie opgelos nie.
Me. Jenneth Geel, senior inspekteur van die DBV, het bevestig dat die kontrak wat hulle met die munisipaliteit gehad het reeds in 2012 verval het en nie hernieu is nie.
“Die DBV kry minder as R3 000 per maand van die Standerton gemeenskap wat eersteklasdiens verwag.
“Ons is afhanklik van die hulp van vrywilligers wat vanaf ander dorpe afkomstig is.
“Die gemeenskap van Standerton se hulp word benodig,” het sy per e-pos aan die Standerton Advertiser gesê.
Sy het uitgelig dat hul nie die beeste sonder ’n kontrak kan verwyder nie omdat dit as veediefstal geklassifiseer word.
Volgens me. Geel het sy en mnr. Jannie Kasselman op verskeie geleenthede die probleem bespreek en dat sy aanbeveel het dat die diere na die DBV op Standerton gejaag word, hoewel dit verdere probleme sal skep omdat die kampdrade by die DBV flenters is en nie die vee op kamp gaan hou nie.
“Deur die beeste daar aan te hou, kan dit ook tot diefstal lei.”
Volgens me. Geel is daar vanaf 2012 geen betaling betaling vanaf die munisipaliteit ontvang nie en dat hul opgehou het om fakture en briewe aan die munisipaliteit te stuur.
Me. Geel het onderneem om weer druk op die munisipaliteit te plaas om die uitstaande geld te verhaal en om die kontrak te hernieu.



