Local newsNews

GPF waarsku plaasinwoners om veiligheid op te skerp

In die tydperk van Januarie tot Oktober vanjaar was daar 305 aanvalle en 65 moorde op die inwoners van plase in Suid-Afrika.

BETHAL – Die plaaslike gemeenskapspolisiëringforum (GPF) het ’n dringende beroep op plaasinwoners gedoen om hul veiligheid op te skerp.Die polisie sien gewoonlik ’n styging in rooftogte en inbrake voor en tydens die vakansieseisoen en
misdadigers doen dié tyd van die jaar “inkopies sonder kaarte”.

Die GPF is bekommerd oor die hoeveelheid inwoners op plase wat nie na hul veiligheid omsien nie.

In die tydperk van Januarie tot Oktober vanjaar was daar 305 aanvalle en 65 moorde op die inwoners van plase in Suid-Afrika.

Ontledings dui daarop dat daar meestal vier groepe betrokke is by só ’n aanval.

Daar is die bespieders wat slegs die oë is en nie betrokke is by die aanval nie.

Dan is daar die persoon wat die inligting oor die teiken uitgee.

Daar is ook mense wat ’n wrok het teen die persoon wat aangeval word en laastens is daar die aanvallers self.

Só ’n groep kan uit een of 20 mense bestaan.

Dit gebeur so dikwels dat ’n mens sien watter maklike teiken slagoffers was omdat die nodige veiligheidsmaatreëls nooit getref is nie.

Dit geld veral vir ouer mense.

Hier is  ’n paar riglyne:

* Verander die roetine weekliks en twee-weekliks. Moenie die hek elke oggend om 7vm oopmaak nie en elke dag dieselfde tyd huis toe gaan nie.

* Maak seker dat huis- en plaaswerkers veiligheidsklaring by die polisie het. In ’n onlangse geval het ’n plaaslike werker se klaring aangedui daar is sewe aanklagtes van aanranding met die doel om ernstig te beseer teen hom.

* Onlangse gevalle het gewys dat merkers wat aandui watter plase geteiken word, deesdae vervang word met foto’s van die buitekant, sowel as die binnekant van die huis. Die aanvallers weet presies wat die uitleg van die huis is, al was hulle nog nie vantevore daar nie.

* Soveel plase se hekke staan oop. Sluit dit eerder en plaas jou selfoonnommer daarop dat mense skakel as hulle wil inkom. Mense wat vee of iets anders van die plaas af verkoop, moet veral versigtig wees. Maak seker dat die omgewing om die hek skoon gesny is en verwyder alle bosse, klippe en ou voertuie.

* ’n Goeie heining is belangrik. Hou dit oopgesny sodat daar nie wegkruipplek is nie.

* Sorg dat alle tuingereedskap toegesluit is. Dit is dikwels die eienaar se eie gereedskap wat gebruik word om by sy huis in te breek. Bêre alle spitvurke, grawe, pikke en byle.

* Maak seker dat die beligting om die huis voldoende is. Wissel die tye wat ligte aan en af gesit word.

* Kommunikasie-netwerke is van uiterste belang. Maak seker jy ken jou bure en het hul kontaknommers. Skakel in by ’n veiligheidsgroep en radionetwerke. WhatsApp-groepe is baie handig.

* Honde speel ’n belangrike rol. Twee groot honde en twee kleines is gewoonlik doeltreffend. ’n Hond wat in die huis slaap, dien as afskrikmiddel. Indien honde vergiftig word, waarsku jou bure en wees ekstra paraat.

* ’n Stewige ganghek kan kosbare tyd koop. Moenie die goedkoop soort koop nie.

* Rowers se eerste teiken is meestal die hoofslaapkamer om die man buite aksie te stel. ’n Deurstop wat agter die deur ingedruk word sal lawaai sodra die deur oopgestoot word.

* Hou vensters snags op knip.

* Stap elke tweede dag in ’n 200m wye sirkel om die huis en kyk uit vir vreemde spore en merkers. As die werkers slegs een pad het waar hulle die werf verlaat, sal dit maklik wees om verdagte spore raak te sien. Let op hoe werkers se spore lyk sodat vreemde spore onmiddellik raakgesien word.

* Dit gebeur dikwels dat mense stilbly as ’n werker hulle dreig. Meld dit onmiddellik aan.

* Hou ’n noodtelefoon met ’n vol battery waarvan slegs die mense van die huis weet, byderhand. Tydens ’n aanval kan dit lewensbelangrik wees.

* ’n Handwapen is slegs van nut as dit aan jou sy is. Tydens ’n aanval is ’n wapen in die kluis nutteloos. Haal jaggewere wat in die kluis gebêre word se grendelstukke uit en bêre dit op ’n ander plek.

* In ’n aanval is tyd ’n mens se vyand. Skakel in by ’n groep, soos die GPF, waar verskeie mense kan inspring en reël dat die polisie en ambulansdienste opdaag. Gee duidelike inligting soos wie is aangeval, waar hulle aangeval is, hoeveel mense betrokke is en die aanvallers se kleredagm.

* Noodhulpkennis kan ’n lewe red. Hou basiese toerusting byderhand, soos dit wat nodig is om bloeding te stop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button