Krisissentrum hou Kersmark
Daar was sowat 35 stalletjies wat ’n verskeidenheid van handgemaakte artikels, eetgoed, klere en juwele te koop aangebied het.
Die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) en Krisissentrum se Kersmark is op 3 Desember by die Hervormde Kerksaal gehou en was met pret en lekker eetgoed belaai.
“Dit was ’n sukses,” het me. Arista van der Merwe, voorsitter van die SAVF, gesê.
Die opbrengs van die mark sal aangewend word om behoeftige gesinne in die gemeenskap te ondersteun met dienste wat strek van kospakkies, berading en familieprogramme om families bymekaar te hou en hul te bemagtig om selfversorgend te wees.
Bo en behalwe die 35 gesinne wat kospakkies by die sentrum kom afhaal, word 80 gesinne tans in die gemeenskap bedien op gebiede waar dit benodig word.
Die sentrum beskik oor vyf gesinskamers, ’n vroue- en manssaal wat afsonderlik 20 persone op ’n keer kan huisves.
Volgens me. Riana de Beer was daar sowat 35 stalletjies met ’n verskeidenheid van handgemaakte artikels, eetgoed, klere en juwele wat te koop aangebied is.
’n Stewig bedrag van R16 000 is ingesamel en me. Van der Merwe het die hele gemeenskap bedank vir hul ondersteuning asook die instansies en persone wat gehelp het om die bedrag in te samel.



