NG Kerk Bethal Oos vier 50ste bestaansjaar
Dié gemeente was eers deel die N.G. Moedergemeente en het in 1966 weens groeiende lidmaatgetalle besluit om ’n nuwe gemeente te stig.
BETHAL – Die N.G. Kerk Bethal Oosgemeente het onlangs hul 50ste bestaansjaar gevier.
Dié gemeente was eers deel van die N.G. Moedergemeente en het in 1966 weens groeiende lidmaatgetalle besluit om ’n nuwe gemeente te stig.
Vanjaar het twee gemeentes ook een geword.
In 1976 het Bethal-Noord as die derde gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk op Bethal tot stand gekom.
Heelwat formaliteite en besluite is deur die N.G. Kerk Bethal Noordgemeente se kerkraad geneem en op 1 Maart vanjaar het dié gemeente een met die N.G. Kerk Bethal-Oos geword.
Die Noord-gemeente het ook hul 40ste bestaansjaar so afgesluit.
Na die afstigting van die N.G. Kerk Bethal Oosgemeente, is eredienste eers in Hoërskool Hoogenhout se skoolsaal gehou.
’n Ou kerkgebou van die Nerderduitsch Hervormde Kerk is vanaf Maart 1967 gebruik.
Herstelwerk moes eers aan die gebou gedoen word en ’n gebruikte orrel is aangeskaf.
Hoewel die gemeente vier erwe ontvang het, was dit te klein.
’n Boufonds is in Januarie 1969 vir die bou van die kerk en die saal gestig.
Daar is twee aangrensende erwe in Februarie 1968 deur die stadsraad aan die gemeente geskenk en bouwerk kon in Julie 1973 begin.
Die kerkgebou en saal is in 1975 in gebruik geneem.




