Gedurende die nag van 8 Januarie was daar ‘n inbraak by VKB, Morgenzon.
Volgens mnr. Fanie Rothman van Kasselman Veiligheidsdienste het die diewe vermoedelik toegang verkry deur ‘n gat in ‘n draad langs die dokters se spreekkamers te knip. Daarna is die booswigte oor die muur van die onderneming.
Die skelms het die venster langs die skuifdeur stukkend geslaan en volgens mnr. Rothman, twee kettingsae gesteel.
Die Morgenzon Polisie was op die toneel en sake van diefstal en huisbraak is geopen.
Die bestuurder van VKB, mnr. Jan Faul, het gesê die inbrekers veroorsaak baie moeite, want nou moet daar skoongemaak word en hulle moet wag vir die versekeringsmense om die glas te laat vervang. Volgens mnr. Faul was hulle al die teiken van diewe in die verlede, maar hoop dat dié keer die laaste sal wees.



