TRICHARDT – ’n Boer en sy gesin is Sondag, 5 Februarie omstreeks 2.45vm op hul plaas naby Trichardt aangeval nadat vyf mans toegang tot die huis verkry het.
Een het ’n balaklava gedra en van die aanvallers was gewapen.
Die boer is vasgebind en aangerand, terwyl die rowers hom herhaaldelik gevra het waar die kluis is.
Bykans al die gesin se besittings is geroof.
Die aanvallers het in die boer se voertuig gevlug, maar die voertuig is later verlate gevind.
Volgens Transvaal Landbou-unie (TLU) was daar van 1 Januarie tot 13 Februarie reeds 46 aanvalle en 10 moorde.
Alle aanduidings dui daarop dat vanjaar meer rampspoedig gaan wees.
’n Plaaslike boer het gewaarsku boere moet paraat teen plaasaanvalle wees.
Boere moet hul wonings inspekteer.
Dit is duidelik sigbaar dat aanvallers mense teiken en swakpunte in sekuriteit raaksien en enige swakplek sal uitbuit.
Twee bevestigde aanvalle het verlede jaar in die Bethal-distrik plaasgevind en aanvalle is ook in die Ermelo- en Middelburg-distrikte aangemeld.
Plaasaanvalle is besig om toe te neem in die omgewing.
Bejaardes en selfs gestremdes is aangerand en in die gesig, maag en arms geslaan.
Handwapens, messe, pangas en selfs militêre wapens is ook na aanvalle gevind.
Rowers gebruik egter enige iets tot hul beskikking om hul doel te bereik.
Boere of enige iemand wat op ’n plaas woon, moet sorg dat hulle te alle tye voorbereid is.
Mense moet paraat wees en oplet of iemand die plaashuis dophou en veral wanneer daar vreemdelinge op die plaas rondloop.
“Mense moet weet dit gebeur en moet reg wees vir enige iets wat enige tyd kan gebeur,” het die boer gesê.


