SECUNDA – Die plaaslike AfriForum-tak het sy samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bevestig deur ’n afskrif van die samewerkingsooreenkoms wat op 16 Januarie tussen AfriForum en die SAPD op Centurion gesluit is, op 7 Februarie aan kol. Willie Nel, bevelvoerder van die plaaslike polisiestasie, te oorhandig.
“Ons is opgewonde oor dié ooreenkoms wat ten doel het om ’n geïntegreerde benadering te volg om veiligheid te verbeter en gemeenskapsamewerking in die bekamping van misdaad aan te moedig,” het mnr. Hillel Coetzer, AfriForum se streekskoördineerder vir Mpumalanga-Wes, gesê.
Mnr. Hennie Pretorius, voorsitter van die AfriForum-tak op Secunda, het bygevoeg: “Dié ooreenkoms versterk ons vermoë om ’n verskil in ons gemeenskap te maak.
“Ons moet strukture binne ons gemeenskappe skep om ons inwoners te beveilig.
“Ons wil plaaslike inwoners aanmoedig om by ons inisiatiewe betrokke te raak sodat die strukture wat ons daarstel, versterk kan word in die stryd teen misdaad,”
Mnr. Coetzer het verder gesê AfriForum beplan om sy betrokkenheid binnekort te verhoog deur middel van samewerking met plaaslike GPF-strukture.
Om by jou plaaslike AfriForum-tak en -buurtwag aan te sluit, stuur ’n SMS met die woord Buurtwag na 45350.


