Vermeende spoorstaafdiewe is deur Moeder Natuur gepootjie.
’n Vragmotor het op 8 Februarie in die modder op die Katdoornkraal-pad, De Kuilen-omgewing, vasgeval.
Dit is die tweede voorval vanjaar waar diewe probeer het om die spoorstawe wat reeds in hanteerbare lengtes opgesny is, te steel.
Tydens die vorige mislukte diefstal is vier verdagtes in hegtenis geneem en het die vragmotor wat van die Kongo afkomstig is, op die toneel uitgebrand.
Dit wil voorkom asof die skelms die spoorstawe wou oorpak vanaf dié voertuig wat uitgebrand het, maar hulle het die vragmotor wat in die modder vasgesit het, agtergelaat en spoorloos verdwyn.
Mnr. Mike Asefovitz, woordvoerder van Transnet, het gesê die diefstalle is buite hulle beheer en die spoorlyne kan nie gelig word nie omdat Transnet sommige van die spoorlyne in die toekoms weer in werking gaan stel.

Kasselman Veiligheidsdienste het die voorval by die Standerton Polisie aangemeld en ’n diefstalsaak is geopen.
Transnet het aan ’n plaaslike boer toestemming verleen om die spoorstawe van die toneel te verwyder en op sy plaas te bewaar totdat die saak afgehandel is.
Die reëling is getref omdat die skelms die grensdrade van die boer met elke diefstalpoging stukkend knip en dan net so agterlaat.
Volgens die boer was dit ’n gehuurde vragmotor.
Die vragmotor is na bewys van eienaarskap aan die eienaar teruggegee.
Bewyse van die huurkontrak tussen die eienaar en die vermeende diewe is ook gelewer.
Die ondersoek duur voort.




