Eunice glo Pilates is die regte oefening vir jou
Secunda-inwoners kan nou ook by dié soort klasse baat.
SECUNDA – Eunice van Staden is die eienaar en bestuurder van haar eie onderneming en is mal oor die geleentheid om klas vir klas en oefening vir oefening, plaaslike inwoners te help om hul gesondste self te wees.
“Ek bied Pilates-klasse aan, het ’n skoonheidsalon en ek bied ook babamasseerklasse aan.
“My klasse is intens, maar pret en uitdagend en beslis opbouend vir jou liggaam én gees.”
Kliënte word geleer hoe hul liggame werk en wat die beste manier vir hul unieke liggame is om te beweeg.
“Die klasse word só saamgestel dat dit elke individu in die klas se behoeftes aanvul en hul leefstyl en stokperdjies komplementeer.”
Me. Van Staden bied elke weeksdag Pilates-klaase aan en daar is selfs soms klasse op Saterdae, maar sy kies om die klasse klein te hou sodat elkeen die nodige aandag kan kry.
“Groepsklasse is nooit groter as nege mense per klas nie en ek is ook oop vir individuele of duetsessies.”
Me. Van Staden het self eerstehandse ondervinding van die verskil wat Pilates in jou lewe kan maak.
“Pilates gaan oor funksionle beweging en as iemand wat self skoliose in die bo-rug het, het ek as student met Pilates-klasse begin.
“Ek is ook ’n danser en het na net ’n paar klasse, reeds die verskil in my liggaam se postuur en beweging gevoel en raakgesien.
“My balans was beter, my beserings was minder en my spiere meer soepel.”
Me. Van Staden het al etlike jare se ondervinding as Pilates-instrukteur en het vinnig besef dat dié soort werk vir haar bedoel is.
“Ek glo mens is nooit te oud of te jonk om te begin beweeg nie, en Pilates werk vir almal.
“Of jy ’n beginner is of nog nooit in jou lewe fiks of soepel was nie, moenie bekommerd wees nie, as jy toegewy is, is Pilates reg vir jou.”
Met haar agtergrond in dieetkunde, is volhoubare gesonde lewensgewoontes vir haar belangrik, veral as dit by tieners kom.
“Vandag se kinders en tieners word gebombardeer met die media se beeld van hoe ’n mens moet lyk, wat ’n valse beeld is.
“Daar is daagliks ander ‘reëls’ oor wat gesond is en dit is verwarrend.
“Ek werk gereeld met kinders en mens kan beslis sien hulle is verward en oorweldig weens al die teenstrydige inligting waaronder hulle toegegooi word.”
Stuur ’n epos na me. Van Staden by pilatesunica@gmail.com vir meer inligting.
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Highvelder, Standerton Advertiser
For more news and interesting articles, like us on Facebook, and follow us on Twitter and Instagram




