
BETHAL – ‘n Gewapende man het op 1 Maart omstreeks 4.45nm Miladys op Bethal beroof.
Volgens een van die personeellede was hulle besig om reg te maak om die winkel te sluit.
Die man het hulle die winkel in geforseer en die deur agter hulle toegemaak.
Hy het glo twee vuurwapens by hom gehad en hulle daarmee gedreig.
Die vermeende rower het vier van die personeellede opdrag gegee om in die toilet te gaan staan, waarna hy een van hulle na die voorkant van die winkel geneem het waar die geldregisters is.
Hy wou weet waar die sleutel vir die geldregisters en die kluis is.
Nadat hy die sleutels geneem het, het hy almal vasgebind en geld uit die registers en kluis gesteel.
Hy het glo met meer as R5 000 gevlug.




