Jy kan help om die wiele vir Bethal-verlamde te laat rol
Ondersteun die Blank Canvas-projek. Om jou kaartjie te koop om ’n kans te staan om ’n skildery van jou keuse te wen, skakel mnr. Marius Conrnelissen by 078 365 2145.
BETHAL – Mnr. Marius Cornelissen was in 2003 in ’n motorongeluk, waarna hy vanaf sy heupe verlam is.
Omdat hy die rolstoel wat hy tans gebruik, ontgroei het, moet hy ’n nuwe rolstoel kry wat volgens sekere spesifikasies aangepas moet word.
Mnr. Cornelissen het nie ’n mediese fonds nie.
Hy kon nie sy studies na die ongeluk voltooi nie en herstel nou rekenaars van die huis af.
Dié inkomste is egter nie genoeg om ’n rolstoel te koop nie en hy het die publiek, ondernemings en mediese instansies om hulp gevra.
Dit is waarom me. Anet du Toit, ’n plaaslike kunstenaar, besluit het om hom te help.
Sy kan het die Blank Canvas-projek begin, waarvoor mense kaartjies vir ’n gelukkige trekking kan koop.
Die persoon wie se kaartjie getrek word, wen die Blank Canvas en me. Du Toit verf dan enige iets van jou keuse op die skoon 50cm- by 60cm-doek.
Mnr. Cornelissen het nog nie genoeg geld om die regte rolstoel te koop nie.
Hoewel baie mense vir hom rolstoele wou gee, kan hy dit nie gebruik nie.
Hy moet ’n rolstoel met sekere spesifikasies hê.
Die rolstoel wat hy op tans gebruik, is besig om uitmekaar te val.
“Ek is al baie in my lewe gehelp,” het me. Du Toit gesê.
“Wanneer jy nie gee nie, kan jy nie ontvang nie,”
Sy het in 1997 begin skilder en het kuns as vak tot in matriek geneem.
“My kunsonderwyser het gesê dat ek dit nooit in kuns sal maak nie.
“Ek het daarna nie aangehou skilder nie.
“My man het jare later voordat ons getroud is, vir my ’n stelletjie gereedskap gewys waarmee mens leerwerk doen.
“My liefde vir kuns en kreatiewe denke het weer vlamgevat en ek het met leerwerk begin en op leerprodukte geverf.
“Nuuskierig om te kyk of ek nog kon skilder, het ek weer die kwas opgetel en begin.”
Me. Du Toit skilder nou voltyds en lag wanneer sy vertel dat mense haar nou betaal om te doen waarvoor sy lief is.
Mnr. Cornelissen was saam met medestudente na ’n technikon op Newcastle op pad toe die ongeluk gebeur het.
“Ek kan net onthou die bestuurder het die motor in tweede rat gesit en die motor het gegly en ’n lamppaal getref.
“Ek het eers in die hospitaal wakker geword en agtergekom dat my bene nie werk nie.
“Omdat ek nie ’n mediese fonds het nie, is ek in ’n staatshospitaal opgeneem.
“My ma het my van my jongs af geleer dat ek my vriende moet reg kies en haar woorde het na die ongeluk deur my kop gemaal,” het mnr. Cornelissen vertel.
Hy het gesê die studente waarmee hy gery het, het alkohol gedrink en die bestuurder van die motor was reeds vroeg onder die invloed.
Mnr. Cornelissen se L1-werwel het versplinter en in die rugmurg van sy T12-werwel gesteek.
Dit het veroorsaak dat hy verlam is.
Hy het by die rehabilitasiesentrum geleer hoe om van die bed af in die rolstoel te klim, hoe om te stort en self oor die weg te kom.
Die rehabilitasie het vir mnr. Cornelissen nuwe uitdagings gebring.
“Een van die vorige pasiënte het ’n rekord opgestel en is binne agt weke ontslaan.
“Ek het ’n pasiënt daar ontmoet wat my alles van ’n rolstoel geleer het, soos hoe om in en uit te klim sonder iemand se hulp en om dinge self te doen.
“Ek het toe die agt weke rekord verbeter en is binne ses weke huis toe gestuur.
“Dit was die grootste uitdaging vir my en ek wou daardie rekord verbeter.
“Almal, selfs die fisioterapeut het vir my gelag en my sleg gesê.
“Sy het vir my vertel dat ek dit nooit sal kan regkry nie,” het hy verduidelik.
Na die rugoperasie was mnr. Cornelissen swak en kon nie die 10kg-gewigte by die rehabilitasiesentrum optel nie.
Met ’n nuwe rekord in sig, het hy harder as enige pasiënt gewerk om weer sterk te word.
Hy het besluit dat hy homself nie gaan bejammer nie.
Selfs die professor wat oor hom aangestel is, kon nie glo dat hy so vinnig herstel het nie.
Mnr. Cornelissen woon tans saam met sy suster in ’n huis.
“Ek het my broer in 2011 aan die dood afgestaan en my ma het in 2013 haar stryd teen kanker verloor.
“My pa is dood toe ek 10 jaar oud was.
“Ek sal altyd eers self probeer om iets te doen en wanneer ek dan nie regkom nie, sal ek vir hulp vra.”
Mnr. Cornelissen maak self sy huis skoon, berei kos voor en ry boonop steeds op sy vierwielmotorfiets.
Hy wil nie ’n elektriese rolstoel hê nie omdat hy steeds sy arms kan gebruik.
Donasies is ook welkom omdat die doelwit is om R50 000 of meer in te samel.
Die rolstoel wat vir mnr. Cornelissen gepas sal wees, kos bykans R50 000.
Om jou kaartjie te koop om ’n kans te staan om ’n skildery van jou keuse te wen, skakel mnr. Conrnelissen by 078 365 2145.
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Highvelder, Standerton Advertiser
For more news and interesting articles, like us on Facebook, and follow us on Twitter and Instagram








