Vyf skape is teruggevind wat van die plaas Platrand, Cornelia-omgewing, gesteel is.
Twee lede van die Cornelia Polisie het op 28 Februarie net na middernag op die R103 patrollie gery.
Hulle het ’n swart Audi A3 opgemerk en die voertuig probeer stop.
Die voertuigbestuurder het weggejaag op die R103 en die patrollielede het hom agternagesnel totdat hulle daarin kon slaag om die verdagte voertuig tot stilstand te bring.
Na verdere ondersoek het die polisie die lewendige skape in die motor se kattebak gevind.
Die bestuurder en sy passasier kon geen dokumentasie van eienaarskap, bewys van aankoop of rede vir vervoer van die skape lewer nie.
Albei verdagtes is op die toneel op aanklag van veediefstal in hegtenis geneem.
Hulle is tans in aanhouding en sal binnekort in die landdroshof op Vrede verskyn.
Die Audi is ook gekonfiskeer.
Kapt. Jacques de Vos het gesê hy is trots op die flinke optrede van die patrollielede wat die inhegtenisname gemaak het.


