Leechelle kan operasie moontlik vroeër ondergaan
’n Onderneming het gesê dat hulle ’n groot bedrag sal betaal en ander weldoeners het ook van hulle laat hoor.
SECUNDA – Sedert die Ridge Times vandeesweek oor Leechelle van Zyl, ’n Down-sindroomdogterjie, berig het, het die donasies ingestroom sodat sy vir ’n mangeloperasie kan gaan, asook om dreineringspypies in haar ore te laat sit.
’n Onderneming het gesê dat hulle ’n groot bedrag sal betaal en ander weldoeners het ook van hulle laat hoor.
Indien daar meer geld ingesamel word, kan dit vir haar nasorg gebruik word.
Die oor-, neus- en keelspesialis wat haar moet opereer, het gister ingestem om sy deel van die operasie verniet te doen.
Ekstra geld kan in Marietjieskool se rekening betaal word, wat dan vir Leechelle se skoolfonds en busgeld gebruik sal word.
Haar ouers is dankbaar vir elke sent wat inkom omdat hulle dit nodig het, nie net vir die operasie nie maar ook vir haar nasorg.
Leechelle (6) is met vergrootte mangels gebore en dié het sedertdien baie probleme veroorsaak.
Sy gaan na Marietjieskool, ’n skool vir kinders met gestremdhede.
Marietjieskool is ’n skool wat kinders met spesiale behoeftes en gestremdhede help en leer.
Dit is ’n opvoedkundige sentrum waar daar onder andere arbeids- en spraakterapeute is wat die leerders evalueer.
Die skool het ook ’n spesiale busdiens wat leerders by hul huise op- en aflaai.
Leechelle is een van die leerders wat van dié bussie gebruik maak.
’n Terapeut by dié skool het opgemerk dat Leechelle met haar mangels en ore sukkel.
Leechelle moet ’n mangeloperasie ondergaan en dreineringsbuisies in haar ore kry.
Haar ouers het nie ’n mediese fonds nie omdat haar pa onlangs eers weer werk gekry het waar hy ’n beter salaris verdien.
’n Kontantbedrag van R12 300 moet betaal word voordat Leechelle geopereer kan word.
Haar ouers kan nie dié bedrag op een slag betaal nie en het besluit hulle gaan eers die geld spaar.
Danksy plaaslike weldoeners, kan Leechelle nou vroeër vir die operasies gaan.
Geld kan in die volgende rekening betaal word: Marietjie Skool, Absa-tjekrekening 1002831461, verwysing is Leechelle van Zyl.
Persone wat geld in die skool se rekening betaal, kan navraag doen vir ’n staat om te sien dat die geld wel vir haar gebruik word.



