Bethal-skoolhoofde bekommerd oor mynprojek
Stof en steenkoolstof is ’n groot faktor wanneer dit by lugbesoedeling kom. Mense asem stof en steenkoolstof direk in hul longe in wat mediese komplikasies tot gevolg kan hê.
BETHAL – Die beplande Witfonteinmynprojek skep nie net vir boere groot bekommernis nie, maar ook vir die gemeenskap en skole.
Canyoncoal beplan om op plase naby Bethal te myn wat met skietwerk gepaardgaan.
Daar is tans drie skole naby die grond geleë waar daar gemyn sal word, asook waar die beplande steenkoolstortings- en bergingsterrein sal wees.
Jim van Tonderskool is slegs 500m meter van die terrein af waar die beplande bergingsterrein sal wees.
Die spoorlyn sal moontlik gebruik word om van die steenkool te vervoer en loop ook langs dié skoolterrein verby.
Me. Madeleine Ehlers, hoof van Jim van Tonderskool, het gesê: “Daar woon tans bykans 350 leerders en personeel op die terrein.
“Al ons leerders vind dit in die eerste plek moeilik om te leer en kan nie enige stoornis bekostig nie.
“Die spoorlyn waarop meeste van die steenkool vervoer sal word, loop reg langs ons terrein verby en naby aan die skool, klaskamers en ons koshuis.
“Die geraas van die treine dag en nag sal beslis ontwrigtend vir ons leerders wees.”
Bethal Independent Primary School is op die pad geleë waar vragmotors gereeld steenkool sal vervoer.
Mnr. Louis Botes, hoof, het gesê: “My bekommernis is dat die aantal vragmotors wat Bethal vanaf Kriel binnekom, dikwels teen ’n baie hoë spoed teen die afdraend vanaf die spoorlyn by ons skool verbyry.
“Ek baklei reeds sedert 2015 met die Govan Mbeki Munisipaliteit om iets te doen om dit veiliger vir die kinders te maak, maar tot hede ontvang ek net beloftes.
“As die aantal vragmotors toeneem, gaan dit verdere veiligheidsrisiko’s skep.”
Privaatskool Hoëveldrif sal moontlik die slegste daarvan afkom omdat die beplande stortingsterrein die naaste aan dié skool sal wees.
Die grondpad wat naby die skool geleë is, sal ook deur vragmotors gebruik word om steenkool te vervoer.
Volgens The Destruction of the Highveld; Part 1: Digging Coal – groundwork, is die impak wat vragmotors op die omgewing het, ernstig.
Die lug word met stof gevul weens die vragmotors wat heen en weer ry.
Naby waar daar gemyn word en waar steenkool op en af gelaai word, is paaie swart weens die steenkool wat gemors word.
Steenkoolstof wat geskep word wanneer steenkoof verskuif en op- en afgelaai word, besoedel die lug.
“Ons bekommernis is waar die steenkoolstortings- en bergingsterrein sal wees waar dit met voorlaaiers op treintrokke gelaai word vir die binnelandse en buitelandse mark.
“In hulle, Canyoncoal, se aanvanklike inligting is bloot gesê Bethal of Kriel, maar ons is nie bewus van enige spoorgeriewe by Kriel nie.
“Die mees waarskynlike plek is die ou Mooisand-halte wat noordwes van die dorp geleë is.
“Die mees algemene windrigitng op Bethal is die noordweste wind.
“Met die steenkoolbergingsterrein daar gaan die stof wat noodwendig gepaard gaan met so ’n laaiery, oor die dorp waai, wat ’n gesondheidsrisiko vir ons skool en almal wat in die gebied woon, inhou,” het mnr. Botes verduidelik.
Die hoof van Jim van Tonderskool het ook haar bekommernis oor steenkoolstof wat oor hul terrein sal waai, gedeel.
Stof en steenkoolstof is ’n groot faktor wanneer dit by lugbesoedeling kom.
Mense asem stof en steenkoolstof direk in hul longe in wat mediese komplikasies tot gevolg kan hê.
Inwoners is ook woedend omdat Bethal se paaie reeds onrybaar is en meer vragmotors die paaie verder sal verniel.
“Ons besware teen die oprig van ’n nuwe myn by Bethal is tweedelig en albei is ewe ononderhandelbaar.
“Die eerste is die geweldige omgewingskoste wat steenkoolmynbedrywighede het en die gevolglike verbranding van steenkool veroorsaak, en tweedens is die impak wat die mynbedrywighede op ons skool, sy personeel en sy kinders sal hê,” het me. Ehlers bygevoeg.
Die maatskappy wil teen die tweede helfte van 2018 met konstruksie begin.
Dit is aan goedkeurings en lisensies onderhewig.




