Anita de Beer sterk aan na gru-ongeluk
Ds. Renier de Beer is opslag dood en sy vrou is steeds in ’n kritieke toestand. Me. De Beer is per helikopter na ’n hospitaal op Benoni oorgeplaas.
BETHAL – Ds. Renier de Beer (66), leraar van die Evangelies Gereformeerde Kerk op Bethal vanaf 1994 tot en 2004, is op 18 Maart in ’n motorongeluk dood.
Hy en sy vrou, me. Anita de Beer (64), was na Middelburg op pad om vir een van hul kinders te gaan kuier.
Die ongeluk het omstreeks 8nm op die N4-snelweg net voor Middelburg gebeur.
Ds. De Beer het vermoedelik vir ’n vragmotor wat skuins oor die pad stilgestaan het, uitgeswaai en moontlik beheer oor die motor verloor.
Hul motor het bykans 70m ver in die veld ingerol waar dit tot stilstand gekom het.
Ds. De Beer is opslag dood en sy vrou is steeds in ’n kritieke toestand.
Me. De Beer is per helikopter na ’n hospitaal op Benoni oorgeplaas.
Sy het ’n paar frontale frakture op haar skedel en bloeding op die brein.
Volgens die kinders is die neuroloog tevrede met haar vordering.
Haar regterhand is gebreek en sy moet plate en skroewe in die hand kry.
Een van die kinders het gesê: “Het mamma nou gesien. Oog is toegeswel en baie blou. Sy haal self asem en reageer wanneer mens met haar praat.”
Sy het intussen ook wakker geword en reageer op alles om haar.
Ds. De Beer se begrafnisreëlings was nie bekend met die ter perse gaan nie.



