Local newsNews

‘Down-sindroom is niks om oor skaam te wees nie’

Omdat baie mense aborsie oorweeg wanneer hulle ’n Down-sindroom baba verwag, wil die Naudé-egpaar ander meedeel dat dit nie ’n doodsvonnis is nie.

TRICHARDT – Mnr. Jacques en me. Chantal Naudé wil ander ouers met Down-sindroom-kinders help.

Albei dra hemde waarop daar geskryf is: “I support hommies with extra chromies.”

Hulle wil ’n ondersteunersgroep vir ouers met kinders met Down-sindroom op Secunda begin.

Dié groep sal ouers help om Down-sindroom beter te verstaan en te hanteer.

Hulle glo dat om meer ingelig te wees, só ’n kind se lewe baie kan verbeter.

Bloedtoetse en sonars het nie gewys dat die baba wat me. Naudé verwag het, Down-sindroom het nie.

Eers na hul seuntjie, Shaun, se geboorte het die dokter bevestig dat hy Down-sindroom het.

“Ons was ’n bietjie geskok omdat ons nie geweet het waaroor dit gaan nie en omdat ons op daardie stadium oningelig oor Down-sindroom was.

“Die dokter het aan ons verduidelik dat dit iets is wat net gebeur.

“Daar is geen geval van Down-sindroom in my of my vrou se familie nie,” het mnr. Naudé vertel.

Na Shaun se geboorte het hulle besluit hulle gaan hom nie vir die wêreld wegsteek en skaam daaroor gaan wees nie.

Omdat baie mense aborsie oorweeg wanneer hulle ’n Down-sindroom-baba verwag, wil die egpaar ander meedeel dat dit nie ’n doodsvonnis is nie.

Daar is baie maniere van terapie wat dié kinders beter kan laat leer en normaal funksioneer.

“’n Terapeut het ons byvoorbeeld geleer wat om met Shaun te doen wanneer hy sy tongetjie uitsteek.

“Daar is oefeninge wat ons nou al met hom as baba doen wat verhoed dat hy nou en ook wanneer hy ouer is, heeltyd met sy tong buite sy mond sal loop.

“Kinders met Down-sindroom se nekkies is ook swakker en ons laat hom ook nou al oefeninge doen om syne te versterk,” het me. Naudé vertel.

Dié ouerpaar het deur ’n organisasie in Pretoria uitgevind daar is baie mense op Secunda en omgewing wat kinders met Down-sindroom het.

“Ons wil Shaun na die hoofstroomskool laat gaan vir solank as hy kan.

“Van al die kleuterskole in die omgewing is daar slegs een wat hom kan help.

“Daar is net drie skole op Secunda en in die omgewing wat kinders met Down-sindroom inneem,” het mnr. Naudé vertel.

Die Naudé-egpaar glo daar is ’n toekoms vir kinders met Down-sindroom en dat mense nie moet moed opgee nie.

’n Kind met Down-sindroom sal die buitewêreld net soveel geniet soos ’n normale kind.

Daar is al kinders met dié sindroom wat onderwysers en pediaters geword het.

Mnr. Naudé het gesê mense moet besef dat dié kinders ook gevoelens het en dat mense meer respek moet toon.

Mense moet eerder met die persoon gaan praat wat ’n kind met ’n gebrek het, as om heeltyd te staar en vinger te wys.

Daar is ook baie wetlike aspekte rondom die geboorte van ’n gestremde kind waarmee die egpaar kan help.

Hul ideaal is om ander mense te help, raad te gee en inligting uit te ruil waar ouers openlik daaroor kan praat.

Na Shaun se geboorte het die ouerpaar ook ’n geslote Facebookblad gestig waar ouers kan aansluit en raad kan vra.

Hulle beoog om saamrygeleenthede na Down-sindroom atletiek- en ander byeenkomste te reël.

Enige iemand wat raad oor enige iets oor Down-sindroom nodig het of daaroor wil praat, kan mnr. Naudé skakel by 072 497 3211.

Ondersteun ook nasionale Down-sindroomdag op 21 Maart is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button