Kosbare talent is Carlé se juweel
“Elke dag is anders en elke persoon se smaak en persoonlikheid is uniek en so ook die stuk wat ek vir hulle maak.”
SECUNDA – Me. Carlé Rothero, ’n juwelier, was van jongs af kreatief en het ook ’n kop vir besigheid.
Sy het op skool onder andere kaartjies gemaak en verkoop en later ook haar lapverfstukke verkoop.
Me. Rothero het in 1999 saam met haar ouers na Tanzanië verhuis en daar vir die eerste keer met die maak van juwele te doen gekry.
Die gesin het weer na vier jaar teruggekeer.
“Ek wou in grafiese ontwerp of binnenshuise versiering gaan studeer,” het sy gesê.
Sy het egter by ’n opedag by die Tswane Universiteit van Tegnologie op juweliersontwerp besluit.
Haar ma se liefde vir juwele het ook haar besluit beïnvloed.
Sy het na haar vier jaar se studies vir drie maande deur Nieu-Seeland getoer en in 2009 na Secunda verhuis.
Me. Rothero is mal oor die kreatiewe vryheid van juwele ontwerp, maar is ook gelukkig dat sy haar sin vir besigheid kan inspan.
Haar gunstelinge is om met 18-karaat goud en diamante te werk, want hulle is tydloos.
“Elke dag is anders en elke persoon se smaak en persoonlikheid is uniek en so ook die stuk wat ek vir hulle maak,” het sy bygevoeg.
Die beste deel van haar werk is wanneer kliënte die eindproduk vir die eerste keer sien.
Van haar gunsteling projekte is om verloofringe te ontwerp en te maak.
Me. Rothero het die maak van juwele as terapiesessies beskryf.
Die hoogtepunte in haar lewe is om ’n ma vir haar tweejarige seuntjie te wees, haar huwelik met haar man, mnr. Johann Maree, en die groei van haar onderneming.
Me. Rothero dra haar sukses toe aan die ondersteuning van haar familie en haar uithouvermoë in tye wat sy moed verloor.
Sy is by talle organisasies soos Giving Hearts betrokke, waar sy gewoonlik haar tyd gee of pryse borg vir organisasies soos Secunda Nissan Owners wat pretdae hou ten bate van liefdadigheid.
Me. Rothero hou haar ook besig met stokperdjies soos hekel, scrapbooking, ’n boekklub en inkleur en neem ook graag aan parkruns en Crossfit deel.
Skakel me. Rothero by 072 988 4433 of stuur ’n epos na info@crjewel.com.
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Highvelder, Standerton Advertiser
For more news and interesting articles, like us on Facebook, and follow us on Twitter and Instagram



