Editor's choiceLocal newsNews

Roelien glimlag ten spyte van haar omstandighede

Sy was 9 jaar oud toe haar voete binnekant toe begin trek het en sy op haar hakke en die buitekant van haar voete begin loop het.

Roelien Mans het tydens haar geboorte, ’n tekort aan suurstof ondervind.

“Dokters het verduidelik dat die gedeelte van haar brein wat haar spraak- en motoriese vermoë beheer, aangetas is nadat sy nie suurstof gekry het nie,” het haar ma, me. Roelien Rheeder, vertel.

Roelien is nou 20 jaar oud en kan nog nie vol sinne praat nie en maak van gebare gebruik en die paar woorde wat sy wel kan uitspreek, om te kommunikeer.

Sy wys elke nou en dan na hul hondjie en spel dan b-a-b-a met haar mond.

Al kan sy net ’n paar woorde uitspreek, gesels sy heeltyd saam en hou nie op lag en glimlag nie.

“Roelien kon op agt maande steeds nie regop sit nie en ek het besef dat iets fout is.

“Sy was byna ’n jaar oud toe my man en ek uitmekaar is.

“Ek moes haar alleen grootmaak en ek het tussendeur probeer werk ook.

“Roelien is baie lief vir babas en diere en werk sag met hulle,” het me. Rheeder gesê.

Roelien het met fisio- en spraakterapie begin.

“Die terapie het gehelp en sy het begin sit en loop, maar kon nog nooit praat nie.

“Sy was eers drie jaar oud toe sy begin loop het en het toe vir ons weggehardloop,” het me. Rheeder gesê.

Roelien was vir ’n tyd in Marietjie Skool, maar weens sekere omstandighede, kon haar ma haar nie in die skool hou nie.

Sy was nege jaar oud toe haar voete binnekant toe begin trek het en sy op haar hakke en die buitekant van haar voete begin loop het.

Haar ma het nie ’n mediese fonds of genoeg geld gehad om haar na spesialiste te neem nie.

Me. Rheeder is later getroud en sy en haar man het Roelien na ‘n spesialis geneem.

“Roelien kon glad nie haar voete beweeg nie.

“Dit was baie styf en na binne getrek en sy kon glad nie haar voete draai of heen en weer swaai nie.

“Die dokter moes aan haar spiere sny en dit aan die anderkant van haar voete heg.

“Na die operasie kon sy weer haar voete beweeg, maar sy was vir só lank in ’n rolstoel, dat sy dit heeltemal verleer het om te loop en haar spiere is verswak,” het sy verduidelik.

Haar ma het haar na die gimnasium op die dorp geneem waar me. Yolanda Porter Hartman haar spesiale oefeninge laat doen het.

Haar balans het mettertyd verbeter en haar bene het ook versterk.

Me. Rheeder het musiek gemaak en gesing, terwyl haar dogter nog kon loop .

Dit was die enigste inkomste wat sy gehad het.

Toe Roelien nie meer kon loop nie, moes haar ma voltyds na haar begin omsien en kon nie meer werk nie.

Me. Rheeder moet vandag alles vir haar dogter doen.

“Ek help haar om die toilet te gebruik en moet haar in en uit die bad tel.

“Dit was makliker toe sy nog jonger was, maar ek sukkel nou en my rug kan dit nie meer hou nie.

“Ek sal haar nooit in ’n inrigting of tehuis kan sit nie.

“Haar pa het haar weggegooi, maar ek sal haar nooit weggooi nie.

“Niemand sal haar versorg soos ek haar versorg nie,” het me. Rheeder gesê.

Sy het vertel dat sy tans enige raad sal aanvaar wat dit sal vergemaklik om Roelien te bad.

Hulle huur tans ’n huis en kan nie veranderinge aan die huis maak nie.

Roelien en haar ma het hulp nodig om ’n spesiale bad of toerusting te kry wat sal kan help om haar in en uit die bad te kry.

“My man het al vir my gesê dat ek dit rustig moet neem, want as my rug nou moet ingee, is daar niemand wat vir Roelien kan versorg nie.

“Ek wil die beste vir my kind gee.

“Ons sal dit waardeer as iemand ons kan help,” het sy gesê.

Me. Rheeder en haar dogter het almal bedank wat hulle tot dusver bygestaan het.

As iemand hulle op enige manier kan help, kan hulle me. Starna Lundall skakel by 084 577 7160 of 017 647 5404.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button