Vyf wenke vir Paasnaweek motorveiligheid
Dié wenke sal help sorg dat jy die Paasnaweek jou bestemming veilig bereik.

Paasnaweek is om die draai en talle Suid-Afrikaners gaan die lang pad aandurf na verskeie bestemmings om Paasfees te vier.
Dit is belangrik om dié tyd van die jaar aandag te gee aan motorveiligheid.
Datsun Suid-Afrika se algemene bestuurder, mnr. Des Fenner, het raad gegee oor hoe jy tydens Paasfees die pad gelukkiger en veiliger kan aanpak.
“Meeste van ons weet dat ons motors gereeld gediens moet word, dat ons bande padwaardig moet wees en ons ligte in werkende toestand moet wees, maar daar is ook ander dinge wat mens in ag moet neem wanneer mens beplan vir die langpad.”
Dié is mnr. Fenner se top vyf wenke vir die langnaweek:
1. Hou by die nasionale spoedgrens. Moet nie 120km per uur op die snelweg oorskry nie. Nie net sal dit jou brandstof spaar nie, maar sal ook verhoed dat jy later vir spoedkaartjies sal moet opdok.
2. Moet nie jou voertuig oorlaai nie. Wanneer ’n motor oorlaai is, word dit moeiliker om die voertuig te stuur en boonop sukkel ’n oorlaaide voertuig om tot stilstand te kom wanneer daar ’n noodgeval is.
3. Neem gereelde kort ruskansies, veral as daar kinders in die motor is. ’n Paar minute se rus en strek verlig die spanning van langpad bestuur. Dit gee kinders ook die kans om van energie ontslae te raak.
4. Maak seker jou bande is padwaardig. Om skade aan jou motor se bande te verhoed, maak seker dat die bande volgens hul spesifikasies gepomp is en ook nie oorlaai word nie.
5. Pak ’n gesonde kosblik. Hou ’n koelerboks met gesonde eetgoed soos vrugte, toebroodjies en vars water in die motor om jou vars en wakker te hou. Wegneemetes soos hamburgers is swaar en kan jou moeg laat voel.
Daar is ook ander wenke wat gevolg kan word om jou bestemming veilig te bereik, soos om nie te alkohol te gebruik nie, seker te maak jy het genoeg gerus voordat jy bestuur en om die paaie laatnag, wanneer meer vragmotors die pad gebruik, te vermy.
“Dit is meer bekostigbaar om jou voertuig gereeld te laat diens as wat mens moet geld opdok net voor ’n vakansie,” het mnr. Fenner mee afgesluit.



