Baba Luke veg om sy lewe
Hy het ’n skrale 1.035kg by geboorte geweeg en was al vier keer byna dood.

Baba Luke Britz is op 14 Februarie op 28 weke gebore en het ’n skrale 1.035kg by geboorte geweeg.
Hy veg sedertdien om sy lewe en het reeds een keer by die dood omgedraai.
Sy ma, me. Hanri Britz, moes ’n noodkeiser ondergaan nadat die vliese van haar vrugwatersak op 28 weke van haar swangerskap geskeur het.
Wanneer die vliese van die vrugwatersak skeur, loop die vrugwater uit.
Dokters kan nie verduidelik waarom dit gebeur het nie.
“Ek het Vrydag, 10 Februarie gedink daar is fout omdat ek gevoel het my water het gebreek.
“Ek het groot geskrik en is inderhaas dokter toe,” het me. Britz gesê.
Die dokter moes vir haar kortisooninspuitings en ander medikasie gee.
Hy het die Saterdag gesê dat daar nog vrugwater in die vrugwatersak is.
“Ek het op Valentynsdag van rugpyn gekla en daarom het ons die ginekoloog besoek omdat ek ’n vermoede gehad het dat daar iets fout is.
“Hy het gesê dat daar klaar ’n arm of been in die geboortekanaal sigbaar is.
“Ek moes toe kies of Luke met ’n keisersnee gebore gaan word en of ek normaal gaan kraam.
“Die ginekoloog sou eers my baba moes regdraai voordat ek sou kon kraam en hy kon ook nie waarborg dat die baba dan sou leef nie.
“Om te kraam, was ’n groot risiko en ek het besluit dat die dokter ’n keisersnee moet doen,” het me. Britz vertel.
Met geboorte het dit nie gelyk of Luke asemhaal nie.
Die kinderarts het baie gou aandag aan hom gegee en Luke het begin asemhaal.
Hy is in die neonatale intensiewe sorgeenheid opgeneem waar die kinderarts hom gestabiliseer het.
Daar was probleme met sy longetjies en hoewel hy kon asemhaal, het hy gesukkel.
“Hy is dadelik aan ’n ventilator gekoppel en hulle doen daagliks toetse.
“Omdat hy aan ’n ventilator gekoppel is, kan ek nie borsvoed nie en hy kry aarvoeding,” het me. Britz gesê.
Die aarvoeding veroorsaak egter glo probleme met Luke se lewer.
Hy het tans infeksie in sy maag.
Luke het ook bloeding op die brein gehad, maar dit het na ’n week opgeklaar nadat daar vir hom gebid is.
“Dit is nie vir my lekker om my kind so te sien nie,” het me. Britz gesê.
“As ’n ma bly jy bekommerd en ons kan nou net een dag op ’n slag neem omdat mens nooit weet wat kan gebeur nie,” het sy gesê.
Luke is nou 37 weke oud en weeg al 1,80kg.
Die gesin se mediese fonds betaal nie die neonatale intensiewe sorgeenheid nie en die eenheid se rekening beloop reeds meer as ’n miljoen rand.
Om geld in te samel, word funksies en geleenthede, soos die stalletjiedag wat op 6 Mei op Zandfontein Perdeplaas plaasvind, beplan.
Die Beauty Therapy Institute op Trichardt gaan ook ’n pamperlangdag op 20 Mei hou.
Vollyf-, rug- en nekmasserings, manikure en pedikure gaan teen kosprys aangebied word.
Dit is noodsaaklik om te bespreek om teleurstelling te voorkom.
Nog ’n funksie wat gereel word, is Manie Jackson wat op 31 Mei gaan optree.
“Luke is ons eerste kleinkind en ons wil net hê dat Boetie moet huis toe kom sodat ons hom kan bederf,” het me. Esti Smit, me. Hanri Britz se ma, gesê.
“Ek wens my kind het nie nodig gehad gehad om hierdeur te gaan nie.
“Sy is baie sterker as wat baie mense gedink het sy is.”
As jy vir Baba Luke kan help, kan jy geld in die volgende rekening inbetaal, ’n stalletjie by die stalletjiedag bespreek of die verskillende geleenthede ondersteun waar daar geld vir hom ingesamel word: Luke Britz, spaarrekening, Capitec Bank, Secunda-tak, rekening nommer 151 424 3545.
Vir meer inligting oor die stalletjiedag, skakel Carel by 062 989 5945.
Vir navrae oor die ander geldinsamelingdae, skakel me. Smit by 074 601 6312.
Lees ook: Klompvoetjies word spogvoetjies vir Secunda-baba na operasie.
Lees ook: Man brand huis af na hy vrou, baba wegjaag.
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Highvelder, Standerton Advertiser
For more news and interesting articles, like us on Facebook, and follow us on Twitter and Instagram.




